Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Willie: Ek skuld my spanmaats ’n bier

Elke Springbok-ondersteuner het Saterdag met ’n beklemming om die hart gekyk hoe Nigel Owens vir Willie le Roux met ’n geelkaart van die veld jaag.

Oomblikke om te koester . . . Met vreugde uitgestippel oor sy gesig drink Willie le Roux Saterdag die Springbokke se sege oor die All Blacks in. Foto: Getty Images

In Wellington se Westpac-stadion het Le Roux daardie selfde gevoel gehad. Dit was die 67ste minuut, die All Blacks was op die oorlogspad en die Bokke met sewe punte voor.

“Toe ek afgestuur is, het ek gedink ek laat my span nou in die steek. As ons verloor sal dit my skuld wees,” het Le Roux Saterdag ná die Bokke se merkwaardige sege met 36-34 in die Nieu-Seelandse hoofstad gesê.

“Gelukkig het dit nie so uitgewerk nie,” het hy verlig bygevoeg. “Ek skuld al die spelers ’n bier daarvoor.”

Le Roux was een van die uitblinkers in ’n Bok-span vol helde, met ’n drie wat Suid-Afrika se neus voor gekry het en ’n klomp uitstekende oomblikke op die verdediging.

Die Bok-heelagter sê hy het vir ’n oomblik gedink hy het die boerpot gewen toe die bal in die eerste helfte ná ’n groot All Black-blaps in sy hande beland.

“Ek het eintlik voluit vir die duikslag (op Rieko Ioane) gegaan,” het hy gesê.

“Ek het geen idee hoe die bal in my hande beland het nie. Die geluk van die wip van die bal was daar in my guns. Terwyl ek gehardloop het om die drie te gaan druk, het ek gedink die grensregter of skeidsregter gaan ons terugroep. Ek het op daardie oomblik nie geweet wat aangaan nie.

“Ek druk nie baie drieë nie. Daardie was ’n spesiale gevoel. Dit het gevoel asof ek die boerpot gewen het.”

Willie le Roux kyk in ongeloof na die geelkaart wat hy op die lyf geloop het vir onkantspel in die Bokke se toets teen die All Blacks. Foto: Getty Images

Die sege in ’n volgepakte Westpac-stadion voor ongeveer 34 409 toeskouers is een van Le Roux se hoogtepunte as ’n Bok.

“Ons as spelers wil so graag weer die trots in die Bok-trui herstel. Ons wil so graag die mense by die huis trots maak.

“Daar is wedstryde waarin jy baie probeer, maar dit nie uitwerk nie. Dan kry jy toetse waar jy een of twee kanse kry en as jy hulle benut, wen jy die toets. Die All Blacks is die beste span op die planeet wat die uitbuit van teenstanders se foute betref. Jy kan nie vir ’n sekonde konsentrasie verloor nie.

“Die bal het egter vanaand in ons guns gewip.”

Le Roux keer die week na sy Engelse klubspan Wasps terug. Hy sal waarskynlik volgende naweek vir hulle speel, maar het Bok-ondersteuners hoop gegee dat hy tog op 29 September in die Baai teen die Wallabies weer in die Groen en Goud kan wees.

“Dis ’n moeilike een op die oomblik, maar ’n mens weet nooit wat daarna kan gebeur nie,” sê hy.

Francois Louw kan ook moontlik volgende week na sy Engelse klubspan Bath terugkeer.

Rugbykampioenskap: Bepalings

Rugbykampioenskap: Puntelys

Rugbykampioenskap: Uitslae

Meer oor:  Bokke  |  Toetsrugby  |  Rugbykampioenskap  |  Springbokke  |  Rassie Erasmus  |  All Blacks  |  Willie Le Roux
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.