Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Die Bulle sal hom met ope arms verwelkom.
Willie le Roux, Wasps in geld-geveg

’n Vergadering volgende week tussen Willie le Roux en sy Engelse klubspan se breier, Dai Young, sal bepaal of dié Springbok-heelagter by Wasps bly en of hy ’n Bul gaan word.

Die Springbok se kontrak verstryk eers aan die einde van die Engelse seisoen by sy klubspan, maar Rapport verneem by drie ingeligtes dat Le Roux vanjaar al honderdduisende rande aan inkomste by die klub verloor het deur vir die Springbokke te speel.

Die Springbok-heelagter Willie le Roux vroeër vanjaar vir sy klubspan Wasps teen Saracens in aksie. Foto: Getty Images

Sy Engelse klubspan se besluit om geld van sy salaris af te trek wanneer hy toetse speel, het groot ongelukkigheid tussen Le Roux en die klub veroorsaak. Die ongelukkigheid word nou met ’n vergadering tussen die twee partye op die spits gedryf.

Le Roux keer ná gister se toets teen Wallis in Cardiff na sy klubspan terug.

Tensy Young en Le Roux ’n bevredigende oplossing vind, wat deur een ingeligte as moontlik beskou word, is ’n skuif na die Bulle ’n sterk moontlikheid.

Die Bulle maak nie ’n geheim daarvan dat hulle Le Roux met ope arms sal verwelkom as hy en Wasps se verhouding wel onherstelbaar verbrokkel nie.

Die vraag is egter of Wasps hom sal afstaan. Le Roux is ’n groot gunsteling onder Wasps se ondersteuners, wat Young se onderhandelinge met hom kan beïnvloed. Young is wel in die gunstige posisie dat Engeland se heelagter Elliot Daly een van sy gekontrakteerde spelers is.

Bok-verpligtinge is egter vinnig besig om soos in Le Roux se geval ’n ál groter probleem vir oorsese spelers te word.

Japanse klubspanne was die eerste wat hul rug oor die Bokke styfgemaak het.

Nadat hulle in 2015 duur lesse geleer het met verskeie Bokke wat twee of drie maande se salarisse ontvang het voordat hulle hulself aan hul klubspanne voorgestel het, het Japanse klubeienaars eenvoudig besluit om nie Bok-spelers te kontrakteer nie omdat hulle soveel ligawedstryde weens toetsverpligtinge misloop.

Kubota Spears, wat Duane Vermeulen vanjaar gekontrakteer het, kan as ’n uitsondering op die reël beskou word. Vermeulen moes wel die Rugbykampioenskap weens klubverpligtinge misloop.

Europese klubspanne soos Wasps raak nou ál hoe meer ongemaklik met hul Bokke wat verskeie Premierliga-wedstryde misloop.

Toe Wasps vir Le Roux gekontrakteer het, was hy nie in die toetsprentjie nie. Dinge het intussen verander sedert Rassie Erasmus by Allister Coetzee oorgeneem het. Le Roux is nou weer ’n eerstekeusespeler vir sy land nadat die Bokke hom nie in 2017 gekies het nie.

Volhard Erasmus daarmee om spelers soos Le Roux te kies, kan die Bokke se markwaarde voortaan dramaties by Europese klubspanne daal. Dít kan die Suid-Afrikaanse franchises soos die Bulle in ’n posisie plaas om Bokke soos Le Roux te kontrakteer.

Erasmus wil dit ook vir spelers aanloklik maak om vir die Bokke te speel. Hy het onlangs sy planne bekend gemaak om gesamentlike Bok-kontrakte met tot R400 000 per toets per speler te vervang.

Dit gebeur al lank dat gekontrakteerdes lank beseer is of vorm verloor en vir lang tye nie toetsrugby speel nie, maar steeds al die pad bank toe lag.

Spelers sal wel kan redeneer dat hulle na langtermynsekuriteit vir hul gesinne op soek is.

Meer oor:  Wasps  |  Springbokke  |  Bulle  |  Willie Le Roux
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.