Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Wink pos by Grey-kollege vir Pote Human?

In ’n ietwat verrassende wending kan Pote Human, voormalige hoofafrigter van die Bulle, as ’n sterk kandidaat na vore tree om die leisels as breier van Grey-kollege se rugbyspan te neem.

Pote Human kan dalk binnekort weer ’n inwoner van die Rosestad word. Foto: Gallo Images

Human is in Mei van sy kontrak by die Pretorianers vrygestel, kort nadat Jake White in Maart as hul direkteur van rugby aangestel is en daar word verneem dat hy moontlik sy naam in die hoed by Grey-kollege kan gooi.

Grey se pos as afrigter het vakant geraak toe Wessel du Plessis onlangs as hoof van junior rugby by die Bulle aangesluit het. Die Bloemfonteiners het die pos die afgelope week geadverteer, met diensaanvaarding wat op 1 Januarie 2021 is.

Volgens die advertensie sal ondervinding van afrigting op hoërskoolvlak, provinsiale en tersiêre vlak in aansoekers se guns tel. Aansoekers moet oor minstens drie jaar se ervaring van afrigting op provinsiale – hetsy junior of senior vlak – beskik.

Hoewel Human nie ’n oudleerling van Grey is nie, is hy nie onbekend in Bloemfontein nie. Hy het die Shimlas van 2000 tot 2004 gebrei, nadat hy die Vrystaat in 1979 en weer van 1989 tot 1993 in altesaam 82 wedstryde verteenwoordig het.

Dié oudlosvoorspeler het ook vir die Oostelike Provinsie in 116 wedstryde tussen 1980 en 1988 uitgedraf.

Die 60-jarige Human se seun, Gerhard, wat die Blou Bulle ’n paar jaar gelede verteenwoordig het, was wel op Grey op skool. Human het tevore sukses behaal met Tuks in die Varsitybeker (2017 se kampioen) en ook met die Pretorianers se juniors, waar dit bekend is dat die spelers baie respek vir hom het.

Nadat Human ’n paar jaar gelede van Japan teruggekeer het, waar hy by die afrigting van die klubspan die Ricoh Black Rams betrokke was, het hy ’n pos aanvaar by die Hoërskool Garsfontein in Pretoria – en is dus nie onbekend met afrigting op skolevlak nie.

Grey is wel daarvoor bekend dat daar gewoonlik afrigters aangestel word wat oudleerlinge van die skool is. In die advertensie word juis melding gemaak dat die geskikte kandidaat “gewillig moet wees om deel te neem aan die geskiedenis, tradisies en etos van Grey-kollege Sekondêr”.

Wessel du Plessis, vorige afrigter van Grey-kollege. Foto: Mlungisi Louw

Tog sal Human se bewese ervaring van afrigting en die feit dat hy ’n oud-Bloemfonteiner is, hom straks ’n gewilde keuse maak.

Hoewel Du Plessis se skoene moeilik gevul gaan word, kan ’n gesoute afrigter soos Human moontlik ’n paar nuwe idees bied, wat kan verseker dat Grey voortgaan om die voorste skolespan in die land te bly.

Nog name wat die laaste tyd opgeduik het as moontlike opvolgers vir Du Plessis, is dié van Jannie Geldenhuys en Bobby Joubert.

Geldenhuys is ’n onderwyser by Grey en afrigter van dié skool se o.16-span. Hy is ook die huisvader van Murray-koshuis.

Joubert is tans Grey se direkteur van rugby en was in 2019 deel van die Vrystaat se afrigtingspan by die o.18-Cravenweek-toernooi.

• Plaaslike afrigters soos Riaan van Straten, wat tevore aan die Hoërskool Sentraal in die Rosestad betrokke was, en Pieter Bergh, afrigter van die Ixias, kan ook straks belangstelling in die pos toon.

Meer oor:  Pote Human  |  Bulle  |  Grey-Kollege  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.