Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Winter loof ‘fenomenale’ WP-spelers

Die vorige keer wat die spanne slaags was, was die Stormers se gevierde voorry geen faktor nie.

Sal die Bulle weer Saterdag die Rooi Gevaar, Steven Kitshoff, en sy Springbok-spanmaats in die voorry van die Westelike Provinsie kan tem? Foto: Gallo Images

Nie soseer omdat die Bulle hulle op Loftus Versfeld geroer het in die skrums nie, maar omdat die Pretorianers só op dreef was dat die besoekers eers diep in die tweede helfte die bal by ’n skrum kon ingooi.

Natuurlik het dit ook nie gehelp dat die Bulle in al die ander afdelings oorheers het nie.

Dit sal naïef van die Bulle wees om te verwag dat hulle weer so lig daarvan sal afkom teen die Bok-trio Steven Kitshoff, Bongi Mbonambi en Frans Malherbe wanneer hulle Saterdag op Nuweland teen die Westelike Provinsie in die Curriebekerreeks speel.

Russell Winter, die Bulle se voorspelerafrigter, het die heuningkwas uitgehaal toe hy Maandag oor die Streeptruie se agttal uitgevra is.

“Ek het so baie respek vir die span, want hulle het fenomenale spelers.

“Daardie voorry het ’n Wêreldbeker gewen en daar is baie potensiaal in die agterste vyf.

“Dit is ’n span wat oral op die veld gevaar inhou en hulle kon net so maklik boaan die puntelys gewees het (ná die Superrugby Unlocked-reeks).”

Hoewel Winter toegee die Bulle is nog nie bestendig genoeg in die skrums nie, was hulle baie gedug in die vaste fasette in die Superreeks.

“Die spelers is bereid om hard te werk en ’n goeie werkkultuur is die sleutel tot die sukses wat ons bereik het.

“Al die spelers is oop vir dit wat ek kan bied. Dit gaan goed sover, maar ons sal moet aanhou hard werk.”

Die spelers gee om vir mekaar en dit wys in die wyse waarop hulle speel.

Fel wedywering tussen spelers in ’n goeie spanomgewing het gehelp dat die Bulle so gou ná die Covid-19-onderbreking as ’n eenheid kon speel, meen Winter.

“Die mededinging in die groep is groot. Al die spelers weet hulle moet goed speel om in die beginspan te bly.

“Daar is op en van die veld af ’n werklik goeie atmosfeer by die Bulle. Die spelers gee om vir mekaar en dit wys in die wyse waarop hulle speel.”

Winter sê die Curriebeker-kompetisie is belangrik, nie net in terme van uitslae nie, maar ook om aan te hou verbeter met die oog op die skuif Europa toe volgende jaar.

Dit behels dat meer spelers in die groep ’n kans in die opdrafspan sal moet kry.

“Almal in die groep is op dieselfde bladsy en weet hoe ons wil speel.

“Dit is moeilik om dit te doen as jy elke week hou by dieselfde beginspan. Jy wil doen wat die beste vir die span is, maar ons moet ook ons diepte op die proef stel.”

’n Ontmoeting tussen die Bulle en die WP sal altyd een van die grotes in Suid-Afrikaanse rugby wees, sê Winter, wat van 2016 tot verlede seisoen die Kapenaars se voorhoede onder hande geneem het.

“Dit sal altyd die geval wees. Ons weet hulle sal Saterdag genadeloos wees en met alles kom. Dit is ons voorneme ook.”

Meer oor:  Russell Winter  |  Wp  |  Bulle  |  Curriebeker  |  Westelike Provinsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.