Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Wits-held ‘verdien glorie-oomblik’
Die Universiteit van Witwatersrand se Christian Humphries lê aan pale toe. Foto: Gallo Images

Min mense se senuwees was so klaar soos dié van Warren Gilbert toe die Universiteit van Witwatersrand (Wits) se plaasvervanger-losskakel, Christian Humphries, aangelê het pale toe om die Noordwes-Universiteit (NWU) se doppie te klink.

Met speeltyd so te sê verstreke en die telling op 24-24

in Maandagaand se Varsitybeker-rugbystryd in Johannesburg, is ’n strafskop sowat 40 m van die pale af aan Wits toegeken – ’n geleentheid om die span se 2020-titelaanslag lewendig te hou.

Humphries, wat in Switserland gebore is en in 2017 ’n koue skouer by die Goue Leeus se Cravenweek-keurders gekry het, het koelkop sy hand opgesteek om die skop te neem.

Toe sy stewel die bal tref, was dit duidelik aan sy reaksie dat die bal deur die mikke sou seil en Wits kon ’n oorwinning met 27-24 vier.

Gilbert, wat in beheer is van Wits se agterlyn en ook as die span se skopafrigter optree, se senuwees het op ’n knop getrek in die aanloop tot daardie skop.

“My senuwees was klaar,” sê hy.

Verlede week was ’n uitdagende een vir Christian. Hy het nie goed geskop (teen die Universiteit van Johannesburg) nie en ons het regtig hard gewerk deur die week.
Warren Gilbert

“Verlede week was ’n uitdagende een vir Christian. Hy het nie goed geskop (teen die Universiteit van Johannesburg) nie en ons het regtig hard gewerk deur die week sodat hy moet glo in sy prosesse en hom nie vooraf bekommer oor die resultaat nie.”

Gilbert vertel die enigste faktor wat hom gerusgestel het, was Humphries, ’n mediese student, se lyftaal toe sy span die strafskop gekry het.

“Wat wonderlik was, is dat hy onmiddellik gesê hy sal die skop vat,” sê Gilbert.

“Dit het vir my gesê dat sy selfvertroue op die regte plek is en ek is só bly vir hom, want hy het hard gewerk daarvoor.”

Wits was vinnig uit die blokke in die eerste helfte en ná 20 minute het die tuisspan reeds drie keer agter die pale gaan kuier om met 17-0 voor te loop.

Daarna het hulle egter die voet van die versneller gehaal en die besoekers het verwoed terugbaklei om dinge gelykop te maak.

“Ek dink ná so 30 minute het die NWU se voorspelers hul ritme begin vind. Ons moes hard veg om ’n teenvoeter daarvoor te vind.”

Volgens Gilbert is sy span se hooffokus om seker te maak dat hulle niemand se slaansak in dié reeks is nie.

Jy wil meeding met die voorste universiteite en ek dink dis ’n baie groot oorwinning vir ons.
Warren Gilbert

“Dit is waarna ’n mens streef. Jy wil meeding met die voorste universiteite en ek dink dis ’n baie groot oorwinning vir ons. Dit beteken beslis baie vir die universiteit.”

Wits sal volgende week Kaapstad toe reis, waar hy teen die Ikeys te staan kom. Die tuisspan sal ’n appeltjie te skil hê met die Johannesburgers, nadat Wits verlede jaar ’n naelbytstryd tussen dié twee spanne met 30-29 gewen het.

Meer oor:  Johannesburg  |  Varsitybeker  |  Wits  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.