Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Wits neem soete wraak teen NWU

Die Universiteit van Witwatersrand (Wits) het met ’n doodsnik-strafdoel deur sy plaasvervanger Christian Humphries soete wraak geneem teen die Noordwes-Universiteit (NWU) in Johannesburg.

Wits het die NWU Maandagaand met 27-24 getroef in hul Varsitybeker-kragmeting nadat hulle verlede jaar met 15-74 geslag is deur dié span.

Bin Kapepula Kasende op pad om ’n drie te gaan druk vir Wits, met Lungelo Gasa van die Puk wat hom vergeefs probeer stuit. Foto: Dominic Barnardt / Varsity Sports

Die span van Potchefstroom was vroeg al op die agtervoet nadat Wits soos ’n vuurpyl uit die blokke is en teen die aanbreek van die eerste strategiese breuk reeds ’n voorsprong van 17-0 opgejaag het.

Die tuisspan het in die eerste kwart van die stryd nie ’n enkele voet verkeerd gesit nie en drie keer agter die doellyn gaan draai.

Die Johannesburgers se vuurvreter-flank Phillip Krause het die lewe vir die Potchefstromers bitter moeilik gemaak.

Benewens sy inklimspel, het hy met ’n paar kraglopies die verdediging besig gehou en is self met ’n drie beloon toe hy sy span se tweede afgerond het.

Teen lemoentyd was die tuisspan met 17-5 voor. Was dit nie vir ’n aanslaan voor die doellyn reg voordat die fluitjie vir rustyd geblaas het nie, kon dié telling self groter gewees het.

Toe die besoekers se Riaan Genis ’n opportunistiese drie vroeg in die tweede helfte druk, het dit skielik gelyk of die span van die NWU eindelik wakker geskrik het.

Wits se bielie-agtsteman en kaptein, Travis Gordon, het soos ’n wafferse vleuel by die kantlyn afgenael vir ’n sewepunt-drie, net vir die Pukke om dadelik terug te slaan deur die plaasvervanger, Lincoln Daniels, en agtsteman, Edmund Rheeder, om sake 24-elk gelykop te maak.

Toe ’n strafskop binne trefafstand kort voor die eindfluitjie aan Wits toegeken word, het Humphries koelkop na vore getree en verseker dat sy span ná drie wedstryde steeds onoorwonne is.

Puntemakers:

Wits 27 (17): Drieë: Matt McDonald, Philip Krause, Daniel Kasende, Travis Gordon (sewepunt-drie). Doelskop: Kurt Webster. Strafdoel: Christian Humphries.

NWU 24 (5): Drieë: Edmund Rheeder (2), Riaan Genis, Lincoln Daniels. Doelskoppe: Wihan von Wielligh, Lungelo Gosa.

Meer oor:  Varsitybeker  |  Puk  |  Wits  |  Nwu
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.