Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Wits ná wipplank-stryd baas

’n Skepdoel in die doodsnikke deur Keagan Lailvaux (losskakel) het Wits Dinsdag in staat gestel om die Goudstad-derby teen die Universiteit van Johannesburg (UJ) in die Varsitybeker-rugbyreeks te wen.

Wits het met 22-20 in Pretoria geseëvier.

Mark Snyman, flank van Wits, probeer Indiphile Tyeda, senter van die UJ, te systap. Foto: Varsity Cup | Christiaan Kotze

Met albei spanne wat voor die wedstryd slegs twee wedstryde gewen het, was daar bitter min op die spel.

Behalwe natuurlik die eer om te weet dat die wenspan se spelers die volgende jaar breëbors in Johannesburg kan rondloop.

Soos in 2020, het Wits Dinsdag weer koning gekraai in die derby.

Maar die UJ was vir sy eie ondergang verantwoordelik, met vier spelers wat met geelkaarte afgestuur is.

Wits het in die eerste helfte ’n paar keer in die UJ se helfte van die veld geboer, maar kon dit die meeste kere nie in punte omskep nie. Foute soos ’n paar vorentoe aangeë het moontlikhede op die aanval beduiwel.

Hulle het wel op die telbord gekom toe hul skrumskakel, Hlumelo Ndudula, oorgeduik het.

Teen rustyd was die telling 8-7 in die UJ se guns.

Maar Dewey Swartbooi, afrigter van die UJ, sou seker nie te gelukkig met die omdraaislag gewees het nie. Twee van sy spelers, Mpho Kubheka (skrumskakel) en Jurich Claasens (losskakel), is in die eerste helfte koelkas toe gestuur.

In die tweede helfte het die UJ ’n paar keer belowend op die aanval gelyk en is hy met ’n tweede drie beloon toe Kayden Kiewit (plaasvervanger-stut) gaan druk het.

Maar kort daarna is die UJ se Philip Apea-Adu (plaasvervanger-slot) ook koelkas toe gestuur. Hy was skaars af, toe gaan druk Setshaba Mokoena (heelagter) Wits se tweede drie.

Dit het die telling 15-12, steeds in die UJ se guns, gemaak. En wraggies, oomblikke daarna is die UJ se senter Indiphile Tyeda ook met ’n geelkaart afgestuur.

Skaars was hy af, toe duik Wits se Ndudula oor vir sy tweede drie, wat sy span die voorsprong besorg het.

Maar Nkondlo Radebe (vleuel) het kort daarna vir die UJ gaan druk, vir die span in oranje om die voortou te neem.

En toe, reg teen die einde, het Lailvaux glorie vir Wits gebring.

Puntemakers:

Wits 22 (7): Drieë: Hlumelo Ndudula (2), Setshaba Mokoena. Doelskoppe: Keagan Lailvaux (2). Skepdoel: Lailvaux.

UJ 20 (8): Drieë: Mpho Kubheka, Kayden Kiewit, Nkondlo Radebe. Doelskop: Jurich Claasens. Strafdoel: Claasens.

Meer oor:  Varsitybeker  |  Uj  |  Wits  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.