Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Woodward droom oor Finn teen Bokke

Die voormalige Britse en Ierse Leeus-speler en -afrigter, sir Clive Woodward, soek ’n bietjie Skotse flair op losskakel in die span wat (hopelik) later vanjaar na Suid-Afrika toer.

Finn Russell op die aanval vir Racing 92. Foto: Getty Images

Woodward onthul in sy rubriek in die Daily Mail dat hy glo Finn Russell hou die sleutel tot ’n opwindende reekssege oor die Springbokke.

In sy rubriek verskaf Woodward sy sport-wenslysie vir die komende jaar.

“Ek sal daarvan hou as Warren Gatland (Leeus-afrigter) ’n sterk boodskap na die Suid-Afrikaners en die rugbywêreld uitstuur. Ons is hier om mense opgewonde te maak met ons rugby,” skryf Woodward.

Sy grootste wens is natuurlik dat die Leeus-toer wel kan plaasvind en in aansluiting met sy wens vir opwindende rugby deur die toerspan soek hy vir Russell op losskakel.

Die 28-jarige Russell het reeds 51 toetse vir Skotland gespeel en is tans die man wat Racing 92 se agterlyn in die Franse Top14-liga woema gee.

Russell het in 2017 saam met die Leeus deur Nieu-Seeland getoer, maar het toe bitter min speelkans gekry.

Sir Clive Woodward het ’n klompie goed aan die sportfront waarvoor hy vanjaar wens. Foto: Getty Images

Woodward glo die Bokke se pak voorspelers sal moeilik tot oorgawe gedwing sal kan word en dat die Leeus eerder moet fokus op ’n agterlyn, wat aanvallende hardlooprugby kan opdis.

As Woodward se droom waar word, sal dit Finn wees wat die vonk agterlangs aansteek, mits die toer natuurlik midde-in die Covid-19-pandemie kan plaasvind.

Sou toeskouers nie later vanjaar wedstryde mag bywoon nie, sal die Leeus straks nie vanjaar aan Suid-Afrika besoek aflê nie.

Woodward wens ook dat meer van die “wêreld se supersterre” hulle vir hul lande se sewesrugbyspanne vir vanjaar se Olimpiese Spele wil beskikbaar stel. En ja, natuurlik wens hy die Spele gaan voort!

Dan wens hy ook die Sesnasies-reeks word wel gespeel en die wedstryd waarna hy verskriklik uitsien, is die een tussen Engeland en Frankryk, wat veronderstel is om op 13 Maart gespeel te word.

“Ek hoop Eddie Jones (Engeland se afrigter) dink buite die kassie teen ’n Franse span wat net besig is om al beter te word,” skryf Woodward.Die voormalige afrigter van die Engelse span skryf ook hy wil eenvoudig net bitter graag weer eendag ’n lekker dag in ’n vol rugbystadion deurbring.

“Om saam met vriende te kuier oor middagete, ’n paar biere te drink, te skinder, ’n lekker wedstryd in ’n vol stadion te kyk en die wedstryd daarná te ontleed, sal lekker wees,” skryf hy.

Die voormalige breier se wense word nie net tot rugby beperk nie.

Clive Woodward wil graag sien hoe boks Anthony Joshua (bo) teen Tyson Fury. Foto: Getty Images

Hy wens ook dat die twee Britse swaargewigboksers Tyson Fury en Anthony Joshua mekaar hierdie jaar in die kryt sal pak.

“Dit sal ’n geskiedkundige dag vir Britse sport wees,” skryf Woodward.

Joshua is die Wêreldboksvereniging, Wêreldboksorganisasie, Internasionale Boksfederasie en Internasionale Boksorganisasie se kampioen en Fury die Wêreldboksraad s’n.

Meer oor:  Clive Woodward  |  Tyson Fury  |  Finn Russell  |  Engeland  |  Springbokke  |  Ierland  |  Skotland  |  Wallis  |  Britse En Ierse Leeu-Toer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.