Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Zelt verwerp oud-direkteur se kritiek

Zelt Marais, president van die Westelike Provinsie Rugbyunie (WPRU), sê onderhandelinge met die “dopmaatskappy” MVM Holdings vir ’n moontlike belegging in die Kaapse unie se sakevleuel het nog nie doodgeloop nie.

Zelt Marais, president van die WP Rugbyunie, het teruggekap ná kritiek deur ’n voormalige onafhanklike direkteur van die unie se sakevleuel. Foto: Gallo Images

Dié stelling was in reaksie op kritiek deur Raymond van Niekerk, wat Dinsdag as ’n onafhanklike direkteur van die WPRU se sakevleuel, bedank het.

MVM wil ’n beherende aandeel van 51% in die sakevleuel koop.

Van Niekerk meen die WPRU het van “logika afstand gedoen” deur André van der Veen en dr. Johan van der Merwe nie op die sakevleuel se direksie te behou nie, terwyl die onderhandelinge met MVM ’n sensitiewe punt bereik het. Hy meen die unie het daardeur in die politiek verstrengel geraak.

“Dalk moes hy die besonderhede van die ooreenkoms in diepte aan jou verskaf het,” het Marais per e-pos op Netwerk24 se navraag geantwoord.

Oor Van Niekerk se uitlating dat die besluit ten opsigte van Van der Veen, wat vir MVM Holdings as ’n moontlike belegger gevind het, wys dat die unie of nie ernstig is oor die ooreenkoms nie, dit wil ondermyn, of nie daaroor omgee nie, het Marais gesê dat daar steeds op ’n vertroulike grondslag met die Amerikaners onderhandel word.

“WP het die minumum bepalings aan MVM verskaf en wag op terugvoering,” sê Marais.

Oor Van Niekerk se uitlatings dat die WPRU beroepsrugby op ’n hoogs twyfelagtige manier bestuur en nie die finansiële implikasies van sy aksies begryp nie, sê Marais dat hy “meer spesifiek” moet wees.

“En (vra hom) watter inkrementele inkomste hy na die balansstaat toe gebring het.”

Marais het ook Van Niekerk se opmerking dat Kevin Kiewitz bedank het as ’n lid van die uitvoerende komitee omdat die unie nie die ooreenkoms (vir die herontwikkeling van die Nuweland-stadion) met Investec deurgevoer het nie, verwerp.

“Investec het weggestap omdat hy geweier het om ’n klousule by die ooreenkoms te voeg waarvolgens die netto inkomste op ’n regverdige manier, proporsioneel tot die permanente kapitaal wat die partye bydra, gedeel sou word,” sê hy.

Marais het bygevoeg dat die spelers hulle van die nuusberigte van die afgelope paar dae gedistansieer het. Rapport het Sondag berig dat die WP ’n speler-rebellie op hande kan hê as hy nie sy sterre gou kan waarborg dat daar genoeg geld is om hul salarisse te bly betaal nie.

Spelers is glo gretig vir die WPRU om die transaksie met MVM Holdings só vinnig as moontlik te beklink.

“Baie vrugbare vergaderings is met die spelers gehou en hulle het hulself gedistansieer van berigte wat die afgelope paar dae in Rapport en Business Day verskyn het,” sê Marais.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.