Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
WP-baas Zacks lê tuig neer ‘oor gesondheid’

Die Westelike Provinsie Rugbyunie het Maandag hardnekkige gerugte bevestig dat Paul Zacks sy pos as die groep- uitvoerende hoof gaan ontruim.

Paul Zacks gaan op 31 Januarie die tuig neerlê as WP Rugby se uitvoerende hoof. Foto: Gallo Images

Daar word lank reeds gegis dat Zacks en die unie se president, Zelt Marais, nie om dieselfde vuur sit nie. Zacks word glo ook daarvoor verkwalik dat hy nie die unie finansieel kon regruk nie.

“Dit is met spyt dat WP Rugby aankondig dat Paul Zacks met ingang 31 Januarie die tuig sal neerlê as die Westelike Provinsie Rugbygroep se hoof-uitvoerende beampte,” het die unie in ’n verklaring aangekondig.

Luidens die verklaring wil die unie nie die Stormers se voorbereiding vir vanjaar se Superrugby-reeks belemmer nie en sal ’n tussentydse komitee Zacks se pligte oorneem terwyl ’n nuwe uitvoerende hoof gewerf word.

Dié komitee sal bestaan uit twee verteenwoordigers van die unie, asook twee onafhanklike direkteurs wat op die raad van die unie se sakevleuel dien.

“Die laaste vier jaar was ’n besonder uitdagende tydperk vir WP Rugby, op en weg van die veld,” het Zacks in die verklaring gesê.

“Noudat daar ’n bietjie meer stabiliteit bewerkstellig is, is die tyd reg vir iemand anders in te kom wat die leisels met nuwe energie kan neem.

Paul Zacks en Zelt Marais (links, president van die WP Rugbyunie) het glo nie altyd om dieselfde vuur gesit nie.Foto: Gallo Images

“Ek wil die voorsitter van die raad, die president, die lede van die uitvoerende komitee, WP Rugby se borge, kommersiële vennote, personeel en die getroue ondersteuners almal bedank vir hul ondersteuning in dié tyd,” het Zacks gesê.

Dr. Johan van der Merwe, voorsitter van die sakevleuel se direksie, het bevestig dat Zacks deels om gesondheidsredes besluit het om te bedank.

Paul Zacks het die Springbok-kaptein, Siya Kolisi, en ander Kaapse Wêreldbeker-Bokke vanjaar nog in Stormers-kleure help hou.Foto: Gallo Images

“Ons waardeer die professionaliteit waarmee Paul sy pligte oor die afgelope vier jaar nagekom het. Ongelukkig het die druk wat met dié pos gepaard gaan ’n nadelige invloed op sy gesondheid gehad en ons aanvaar daarom sy besluit om in die lig hiervan die tuig neer te lê.”

Zacks het in sy tyd aan die stuur van die unie se sakebelange ’n groot rol gespeel om groot kostebesparingsinisiatiewe te loods en het ’n belangrike rol gespeel in die proses om WP Rugby van 2021 ’n nuwe tuisveld, die Kaapstad-stadion, te gee.

Hy het ook toegesien dat die WP die kern van sy Wêreldbeker-Springbokke vir vanjaar se Superreeks behou.

Marais het Zacks namens hom en sy uitvoerende bestuur bedank vir sy toewyding en hom sterkte toegewens met sy toekoms.

Zacks, voorheen ’n besturende direkteur van die sportklere-vervaardiger Canterbury se Suid-Afrikaanse bedrywighede, het op 1 Mei 2016 vir Rob Wagner as die WP se uitvoerende hoof vervang.

Hy het voorheen in sy loopbaan ook in uitvoerende hoedanighede by Global Brands Group en Trans Africa Capital gewerk.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.