Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
WP-base praat reguit met Dobson
John Dobson, die Stormers se afrigter, en sy bestuurspan sal moet uithaal en wys in 2020 se Superreeks, of die trekpas is hul voorland.Foto: Gallo Images

As John Dobson, die Stormers se afrigter vir 2020 se Superrugby-reeks, nog nie besef het dat hy onder druk is nie, sal daar ná Woensdagaand se jaarlikse prysuitdeling van die Westelike Provinsie Rugbyunie (WPRU) by hom geen twyfel wees nie.

Sowel Paul Zacks, die uitvoerende hoof van die WPRU, en Zelt Marais, president, het as sprekers by die Kelvin Grove-klub in Nuweland hul hoë verwagtinge beklemtoon.

Zacks het dit gedoen op ’n ironiese manier gedoen.

“Daar’s geen druk nie, Dobbo, maar met die talent wat ons in ons gekontrakteerde groep het, is ek versigtig optimisties dat 2020, en indien nie, 2021, die jaar gaan wees wat die Stormers hul eerste Superrugby-trofee wen,” het Zacks gesê.

Marais het op sy beurt geen twyfel gelaat nie dat die Kaapse unie nie nóg ’n seisoen soos vanjaar s’n kan beleef nie. Die Stormers kon nie die uitspeelrondes van die Superreeks haal nie, terwyl die WP nie tot in die Curriebeker-reeks se halfeindronde kon vorder nie.

Die WP gaan slegs die inkomste kry wat hy nodig het indien hierdie spanne jaar ná jaar presteer. En dít gáán in 2020 en 2021 gebeur.
Zelt Marais

“Die Stormers en WP is ons sterkste handelsname, wat die meeste van ons inkomste moet genereer. Die WP gaan slegs die inkomste kry wat hy nodig het indien hierdie spanne jaar ná jaar presteer. En dít gáán in 2020 en 2021 gebeur,” het Marais gesê.

Zelt Marais, die WPRU se president, sê die Kaapse unie se finansiële welstand is afhanklik van beter vertonings deur die Stormers en WP.Foto: Gallo Images

“Daar was groot verwagtinge vir 2019, maar die prestasies, of gebrek daaraan, deur die Stormers en WP was vir ons almal ’n teleurstelling.

“Die ironie is dat dieselfde spelers briljant vertoon het in die Wêreldbeker-toernooi. Hulle kon nie dieselfde vir ons spanne doen nie, maar ek is seker hulle sal aanstaande jaar hul stempel vir ons afdruk.”

Dobson en sy afrigtingspan het glo ’n prestasieklousule in hul kontrakte wat bepaal dat hulle aanstaande jaar minstens die kwarteindronde van die Superreeks móét haal.

Marais het gesê dat 2019 die “moeilikste seisoen ooit” was in terme van finansiële uitdagings en die kontraktering van afrigters en spelers.

“Ons moes by tye moeilike besluite neem onder moeilike omstandighede en ’n wolk van waninligting,” het hy gesê.

Paul Zacks, die WP Rugbyunie se uitvoerende hoof, het hoë verwagtinge vir wat die Stormers in 2020 se Superrugby-reeks kan vermag. Foto: Gallo Images

Zacks het wel in sy toespraak beklemtoon dat die WP verenig gaan móét wees om sukses te behaal. Dis welbekend dat hy en Marais nie om dieselfde vuur sit nie, terwyl daar gereeld spanning tussen die amateur- en sakevleuels van die WPRU is.

“Ons gaan dinge net kan maak werk indien ons saamwerk,” het hy gesê.

“Wat dryf jou en hoe passievol is jy oor die WP en die leuse van saamstaan?”

* Robbie Fleck, die Stormers se afrigter van die afgelope vier jaar, het ’n toekenning ontvang ter erkenning van sy besondere bydrae tot die unie. Hy het sedert hy as speler op die voorgrond getree het die WP vir twee dekades gedien.

Herschel Jantjies, wat as die WP se Agterspeler van die Jaar en Spelers se Speler van die Jaar vereer is, het ook ’n prys van die Wes-Kaapse regering ontvang vir sy prestasies vanjaar.

Meer oor:  John Dobson  |  Zelt Marais  |  Kaapstad  |  President  |  Afrigter  |  Stormers  |  Streeptruie  |  Wp Rugbyunie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.