Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
WP-base soek redes vir Treu-voorval

Slegs die “Paul Treu-voorval” sal Woensdagoggend ter sprake kom wanneer Kaapse rugbybase met lede van die Stormers se afrigtingspan vergader, maar dis waarskynlik die voorloper tot veranderinge in die afrigtingstrukture van die Westelike Provinsie.

Paul Treu. Foto: Gallo Images

’n Bom het verlede week in die unie gebars toe Treu, een van die Stormers se hulpafrigters, uit ’n hersieningsvergadering van die Kaapse span se teleurstellende Superrugby-veldtog gestorm het.

Die voormalige afrigter van die Springbok-sewesspan het glo gesê dat hy “genoeg daarvan gehad het om sleg behandel te word en dat hy dit nie meer gaan vat nie”.

Treu kom glo nie goed oor die weg met die Stormers se hoofafrigter, Robbie Fleck, en die Nieu-Seelandse hulpafrigter, Paul Feeney, nie. Hy voel na bewering ook sy insette word nie na waarde geskat nie.

Verlede week se gebeure het rugbybase genoop om ’n vergadering met lede van die afrigtingspan te belê. Fleck, Treu, Feeney en die ander hulpafrigter, Russell Winter, sal ondervra word deur die WP Rugbyunie se president, Thelo Wakefield, die visepresident, Peter Jooste, en die uitvoerende hoof, Paul Zacks. Gert Smal, die WP se direkteur van rugby, sal ook teenwoordig wees.

Volgens Wakefield is die vergadering daarop gemik om die “feite vas te stel” en sal daar met elke lid van die afrigtingspan ’n onderhoud gevoer word.

Netwerk24 het ook betroubaar verneem dat die WP agter die skerms besig is met ’n omvattende ondersoek na die Stormers se teleurstellende veldtog vanjaar, met selfs die hoofborg, DHL, wat senior spelers om insette genader het.

Selfs al wil die WP van sy afrigters die trekpas gee, laat sy swak finansiële posisie hom waarskynlik nie toe om hulle uit te betaal vir die tydperk totdat hul kontrakte verstryk nie.

Paul Feeney. Foto: Gallo Images
Robbie Fleck. Foto: Gallo Images

’n Moontlikheid is om afrigters te herontplooi.

Terwyl die voorval nie tot die verhouding tussen Feeney en Treu beperk is nie, kan een van die oorsake wees dat hulle portefeuljes oorvleuel het.

Treu was die “hulpafrigter vir gestruktureerde spel”. Sy pligte het ingesluit om die span tot die derde fase op die aanval af te rig en op verdediging van die eerstefasespel ná die vaste fasette. Feeney se taak was aanval en verdediging uit ongestruktureerde spel.

Dis posbeskrywings was ver verwyder van die gewone agterlyn- en verdedigingsafrigters, en volgens mense met binnekennis ’n groot probleem.

Treu, wat die strukture help skep het vir Suid-Afrika se suksesvolle sewesspan, se persoonlikheid verskil ook aansienlik van Fleck en Feeney s’n. Daar is ook ’n siening dat Treu al te veel in sy loopbaan bereik het om as ’n hulpafrigter te werk – veral een wie se insette nie behoorlik na waarde geskat word nie.

Meer oor:  Robbie Fleck  |  Paul Treu  |  Wp  |  Paul Feeney
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.