Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
WP behou Bokke, maar breiers pla

Die Westelike Provinsie het ’n verbete aanslag om van sy voorste spelers af te rokkel afgeweer, maar daar heers steeds groot onsekerheid oor afrigtingstrukture in die unie, insluitend aanstaande jaar se Superrugby-reeks.

Die Springbok-haker Bongi Mbonambi het die Westelike Provinsie in kennis gestel dat hy in die Moederstad wil bly eerder as om ’n aanbod van die Southern Kings te aanvaar. Foto: Gallo Images

Slegs John Dobson, die hoofafrigter, het tans ’n kontrak om volgende jaar die Stormers te brei, terwyl die verdedigingsafrigter, Norman Laker, agterlynafrigter, Dawie Snyman, en voorspelerafrigter, Hanyani Shimange, nie werksekerheid het ná 31 Oktober nie. Die oorgrote meerderheid van die mediese personeel en kondisioneringsafrigters se kontrakte verstryk ook.

Die onsekerheid oor posisies kom te midde van ’n grootskaalse herstrukturering van afrigtingstrukture in die unie en vrese dat sekere poste vorentoe slegs deeltyds gevul kan word.

Paul Zacks, die WP Rugbunie (WPRU) se uitvoerende hoof, sê egter dat daar niks vreemd is aan die situasie dat Dobson se hulpafrigters nog nie gekontrakteer is nie.

“Die plan was altyd om ná afloop van die Curriebeker-reeks met hulle te onderhandel. Ons sal aanstaande week met hulle gesels,” sê hy.

Of daardie onderhandelinge vinnig afgehandel sal word, is ’n ope vraag, want daar is glo nie eensgesindheid oor wie die laaste sê moet hê oor aanstellings nie.

Snyman, Laker en Shimange was almal op Dobson se bestuurspan vir die WP se mislukte Curriebeker-veldtog.

Die situasie met die hulpafrigters se kontrakte, asook dié van spelers, was ’n voortslepende kwessie deur die loop van die CB-reeks, omdat die sakevleuel nie aanbiedinge wou toelaat tensy die unie deur sy bates sekuriteit daarvoor verskaf nie.

Dit het te midde van spelers se ontsteltenis maande geneem om daardie kwessie aan te spreek, maar die stryd is uiteindelik gewonne.

Bongi Mbonambi, die Springbok-haker wat ’n aanbod van meer as R10 miljoen gekry het om vir twee en ’n halwe seisoene vir die Southern Kings te gaan speel, het die WP in kennis gestel dat hy in die Kaap bly.

Die WPRU het nog nie amptelike aankondigings gedoen nie, maar Netwerk24 verneem betroubaar dat dit eersdaags sal gebeur.

Top-Bokke wat nuwe kontrakte onderteken het, is die stutte Steven Kitshoff en Frans Malherbe en die losvoorspelers Pieter-Steph du Toit en Siya Kolisi.

Die belowende agtsteman Juarno Augustus het ook ’n nuwe kontrak met die WP gesluit.

Dobson sal dus op ’n stewige groep voorspelers kan staatmaak, hoewel daar nog leemtes op veral senter is.

Of die WP kan bekostig om enige leemtes te vul, is ’n ope vraag. Die Kaapse unie stuur glo af op ’n verlies van R38 miljoen vir die huidige finansiële jaar.

Meer oor:  Westelike Provinsie  |  Wpru  |  John Dobson  |  Curriebeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.