Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
WP beloon topbreiers met kontrakte

Die Westelike Provinsie het nuwe kontrakte gesluit met die afrigtingspan wat die Curriebeker terug Moederstad toe gebring het.

Die WP se afrigter, John Dobson (links) en sy kaptein, Chris van Zyl, met die Curriebeker. Dobson het ’n nuwe kontrak met die WP gesluit. Foto: Gallo Images
Die WP se agterlynafrigter, Dawie Snyman.
Die WP se verdedigingsafrigter, Norman Laker. Foto: Gallo Images

John Dobson (hoofafrigter) en sy assistente, Dawie Snyman (agterlyn) en Norman Laker (verdediging), asook die span se tegniese ontleder, Human Kriek, het volgens die WP Rugbyunie se president, Thelo Wakefield, nuwe kontrakte vir die volgende drie seisoene gesluit.

“Dis ’n gedugte kombinasie wat vir ons die Provinsiale Reeks, SuperSport-uitdaagbeker en Curriebeker gewen het,” sê Wakefield.

Terwyl die WP aanvanklik wipplank gery het in vanjaar se CB-reeks, het die Streeptruie in die pylvak van die toernooi na ’n hoër rat oorgeskakel.

Hulle het met ’n sege oor die Haaie in Durban seker gemaak van ’n tuishalfeindstryd en ’n Springbok-belaaide span van die Goue Leeus toe afgestof.

Daarna is die WP terug Durban toe, waar hulle gemaklik met die Haaie in die eindstryd afgereken het.

Vroeër in die jaar het die Kapenaars ook met talle klubspelers in hul geledere die SuperSport-uitdaagreeks gewen. Verlede jaar was die WP ook die wenners van die Provinsiale Reeks.

Dobson trek al by sy sewende toernooisege as ’n afrigter van die Streeptruie – drie met die o. 21-span, ’n Vodacombeker-kroon, die Provinsiale Reeks, die SuperSport-uitdaagreeks en nou ook die Curriebeker. Snyman was strykdeur nog ’n staatmaker as sy regterhand.

* In meer somber nuus uit WP-geledere is Yusuf Patel, een van sy gewaardeerde oud-administrateurs, die afgelope naweek oorlede.

Wakefield het hom geloof as ’n man wat ’n “kardinale rol” in die eenheidsgesprekke in die vroeër 1990’s gespeel het.

Twee ander historiese figure in die WP, die oudregter Pat Tebbutt en dr. Cecil Moss, is ook vanjaar oorlede.

Patel was tydens die isolasiejare die president van die WP se unie wat aan die destydse nierassige Suid-Afrikaanse Rugbyunie geaffilieer was.

“Hy was ’n baie wyse mens en goeie administrateur. Sy hart het altyd reg teenoor die WP geklop. Hy was vir die toets tussen die Springbokke en All Blacks op Nuweland vanjaar in die presidentslosie en ek is baie bly hy kon dit nog ervaar,” sê Wakefield.

Volgens Wakefield het Patel ook ’n rol gespeel om die WP nader aan die Moslemgemeenskap te laat beweeg.

“Danksy hom het ons ’n beter begrip vir ons broers en susters uit die Moslemgemeenskap en die datums wat vir hulle belangrik is. Hy het ’n groot bydrae gemaak om ons in daardie opsig op te voed.”

“Hy was ferm in sy besluitneming, maar nooit halsoorkop nie. Hy sou eers als opweeg. Soos met Tobie Titus (oudpresident van die WP) is daar baie respek vir hom in terme van sy benadering tot die oplossing van ’n probleem. Hy was ’n ware heer. Rugby is baie armer sonder hom.”

Twee ander historiese figure in die WP, die oudregter Pat Tebbutt en dr. Cecil Moss, is ook vanjaar oorlede.

Tebbutt was die fasiliteerder vir gesprekke oor eenwording in 1992, terwyl Moss ’n groot rol as spanbestuurder in die WP se goue jare van die 1980’s gespeel het.

Moss was ná eenwording ook die sameroeper van ’n verenigde WP-keurkomitee.

Daar was ondanks die potensiaal vir wispelturigheid daardie jare nie ’n enkele vergadering onder hom waar konsensus nie bereik is nie.

“Dok Moss het altyd ’n vriend van die WP gebly en baie agter die skerms gedoen. Hy was ook een van John Dobson se mentors, “ sê Wakefield.

Meer oor:  John Dobson  |  Dawie Snyman  |  Wp  |  Curriebeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.