Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
WP boer teen snelle tempo agteruit

’n Mens kan maar net wonder by watter punt in die Westelike Provinsie se Curriebeker-wedstryd teen die Vrystaat-Cheetahs Woensdag Kaapse helde van weleer besluit het om eerder maar net hul televisies af te skakel.

Evan Roos se uithalerspel was Woensdagaand ’n oase in die Westelike Provinsie se woestyn van middelmatigheid. Foto: Gallo Images

Om te verloor is op sigself nie die einde van die wêreld nie. Dit gaan gebeur met ’n afgewaterde span.

Maar hoe jonk en onervare ook al die span, moet ondersteuners van dié span darem ook ietsie gegee word om aan vas te klou. Iets wat hulle moed gee dat beter tye om die draai is.

Dit was egter moeilik om so iets raak te sien in die Streeptruie se nederlaag van 21-38 in Bloemfontein. Ja, Evan Roos is ’n yster van ’n agtsteman en Springbok-materiaal. Maar dit het ’n mens vooraf geweet. Hy was een van ’n klein groepie Streeptruie wat hul sout werd was.

Seker die grootste frustrasie vir WP-ondersteuners was die stampkarrugby wat gespeel is. Dit was asof die Streeptruie teenstanders probeer vind het om in vas te hardloop eerder as om spasie te soek en die bal die werk te laat doen. Daardie verbeeldingloosheid het die Cheetahs goed gepas. Die tuisspan het hul oorwinning egter terdeë verdien.

John Dobson, die WP se afrigter, erken dat veral sy agterlyn ’n swak dag op kantoor gehad het.

“Ons het nie só goed aangeval as wat ons kon nie. Ons was onder druk by die afbreekpunte en die onkantlyn. In die tweede helfte het dit beter gegaan toe ons wyer gespeel en die bal meer uitgegee het,” sê hy.

“Ons gaan beter moet raak in terme van die span se ruggraat, op 9, 10 en 15. Sergeal Petersen vaar goed (op heelagter), maar is ’n vleuel. Hierdie span kan met Warrick Gelant en ’n paar ander skuiwe dramaties verander.

“Maar ek stem saam ... in die eerste helfte veral het ons een-een teen ’n goed georganiseerde verdedigingslinie probeer aanval.”

Die ander kant van die muntstuk is die moeilike omstandighede waarvan mense buite die dampkring nie kennis dra nie. Covid-19 het die WP verlede week tot in hul bioborrel gevolg voor die wedstryd teen die Britse en Ierse Leeus en onder daardie omstandighede word van die span verwag om drie wedstryde binne agt dae te speel.

Daar is voor Sondag se wedstryd teen die Pumas nie juis veel geleenthede vir die WP om op die oefenveld te skaaf aan wat fout was teen die Cheetahs nie.

Dít sal beteken dat drastiese veranderings nie ’n opsie is nie. ’n Mens sal graag wil sien hoe die belowende Sacha Mngomezulu in die beginspan op losskakel vaar, maar die vraag is of Sondag in Mbombela die regte tyd en plek is.

Daar is wel versterkings op pad. Paul de Wet is fiks en kan by Godlen Masimla op skrumskakel oorneem, die Springbok-haker Scarra Ntubeni kan die WP in ’n sleutelposisie aansienlik versterk, plus Dan du Plessis kan weer in die middelveld inskakel.

Of dit genoeg gaan wees teen ’n geoliede Pumas-span is ’n ope vraag, maar dit gee die Kaap se vuisvoos rugbyondersteuners darem ’n bietjie hoop.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.