Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
WP-broers wil Goue Beker huis toe bring
Charlene en Fanie Willemse (middel) glo hul seuns Damian Willemse (links) en Ramone Samuels kan die naweek weer die Curriebeker vir die Westelike Provinsie terug na die Kaap bring. Foto: Jaco Marais

Die vertonings van die Du Preez-broers (Robert, Jean-Luc en Dan) sal Saterdag beslis nie die enigste bloedverwantskap wees wat ’n invloed gaan hê op wie die Curriebeker in Durban verower nie.

Die veelsydige agterspeler Damian Willemse en sy ouboet, Ramone Samuels (plaasvervangerhaker), wil met uithalervertonings teen die Haaie aan die Westelike Provinsie se besluitnemers bewys dat die regte besluit geneem is om hulle vanjaar te kontrakteer.

Die 19-jarige Willemse draf Saterdag op Kingspark op heelagter uit, terwyl Samuels weer gevra sal word om ’n impak in die laaste kwart van die wedstryd te maak.

Maar waarom het dié broers dan verskillende vanne?

Hul ouers, Francois “Fanie” en Charlene Willemse, het ’n verduideliking daarvoor.

“Ramone het by my ma hier in die Strand grootgeword en is by geboorte toe onder my nooiensvan geregistreer,” sê Charlene.

Ramone Samuels. Foto: Gallo Images

“Ons wou dit later na Willemse verander, maar Ramone het aangedring om maar ’n Samuels te bly.”

Hoewel die talentvolle rugbybroers nie dieselfde van deel nie, sê Fanie en Charlene is hulle baie geheg aan mekaar.

Dit is ook duidelik sigbaar met die twee wat ontspanne en uitgestrek op die rusbank van hul ouerhuis hier in die Strand na sporthoogtepunte op die TV sit en kyk.

Op die mure van ’n klein, maar gesellige sitkamer is foto’s en koerantuitknipsels van hul sukses op die rugbyveld.

Wanneer die twee trotse ouers terugdink aan hoe uiteenlopend hul seuns se persoonlikhede is, sou hulle nooit kon dink dat al twee die naweek saam vir een span in ’n Curriebeker-eindstryd sou speel nie.

“Ramone was altyd stil en die meer teruggetrokke een wat in my dae as klubspeler vir Strand-rugbyklub altyd saam veld toe gegaan het om my te sien speel,” sê Fanie. “Duimpie (Damian) was van kleins af die energieke een wat jy in die straat saam met sy vriende met ’n bal sou sien speel. “Ek dink dit is waar hy homself geleer het om daai deftige aftrappe van hom te vervolmaak.”

Albei se talent het toe verder by die Methodiste Laerskool in Somerset-Wes gedy.

“Winston Baard (’n onderwyser en afrigter) het my oorreed om Ramone by die Methodiste-skool in te skryf en ek was aanvanklik so ’n bietjie skepties, maar dit het daartoe gelei dat Ramone ’n beurs ontvang het om sy skoolloopbaan by Paul Roos Gimnasium te voltooi.

Damian het in 2012 in ouboet Ramone se voetspore gevolg en hom ook by Paul Roos aangesluit. Albei broers het groot hoogtes daar bereik.

Dit was egter ’n hartseerdag, veral vir Charlene, toe Ramone einde 2013 sê hy gaan vir die Leeus speel.

“Sjoe, dit was nie lekker om van hom afskeid te neem nie, daarom is ek so bly dat hy nou weer hier sy rugby speel,” sê Charlene.

Damian Willemse. Foto: Gallo Images

Hy en sy broer is einde verlede jaar WP-kontrakte aangebied.

Fanie sê hy moes intussen maar van al sy Leeus-ondersteunerstruie ontslae raak, aangesien hy nou albei sy seuns in een span kan ondersteun.

Charlene raak egter nog so ’n bietjie senuweeagtig wanneer haar jonge Damian die groter en ouer spelers takel.

“Daar is tye wat ek soms in trane uitbars, want hy sal maar nog altyd my baba bly. Ons het nooit gedink dat hy so gou opgang sou maak as ’n speler in die senior span nie.”

Charlene en Fanie is ook doodseker dat wanneer die skeidsregter se eindfluitjie Saterdag op Kingspark blaas, gaan dit hul seuns en die een Du Preez-broer (Robert jr.) wees wat as wenners van die veld stap.

Meer oor:  Damian Willemse  |  Wp  |  Curriebeker-Eindstryd
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.