Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
WP, Bulle ruil tradisionele rolle om

Die tradisie van die Blou Bulle wat die Westelike Provinsie voorlangs wil boelie en die Kapenaars wat die Pretorianers met hardlooprugby wil klop, gaan straks op sy kop gekeer word vir Saterdag se Curriebeker-rugbywedstryd op Nuweland.

Hierdie keer is dit die Bulle wat die resiesperde bring. Ondanks die teenwoordigheid van die Kaapse vleuels Seabelo Senatla en Edwill van der Merwe, kan die WP hom nie op dieselfde vaart en slaankrag agterlangs as die Bulle roem nie.

Daar gaan baie druk op Chris van Zyl en sy WP-slotmaat, Salmaan Moerat, wees om Saterdag die Bulle se aanslag in die lynstane af te weer. Foto: Gallo Images

“Die Bulle het taai senters, Burger Odendaal en Johnny Kotze, terwyl die vleuels Rosko Specman en Cornal Hendricks blitsig kan toeslaan.

Juis daarom het John Dobson, die WP-afrigter, Donderdag by die aankondiging van sy span dit benadruk dat die Streeptrui-voorspelers die oorhand móét kry.

Terwyl die Bulle gewis nie swak is voorlangs nie – veral met die toevoeging van die Springbok-slot Lood de Jager – het Dobson ’n baie fisieke pak gekies. Dan het hy boonop die luuksheid om ysters soos die vaskopstut Carlu Sadie en die slot JD Schickerling as plaasvervangers op te stuur.

Wilco Louw (vaskopstut) draf op as skrumanker, terwyl Salmaan Moerat en Chris van Zyl die slotpaar sal wees.

Daar kan verwag word dat Dobson sy plaasvervangersbank oordeelkundig sal aanwend om enige momentum wat in die eerste 50, 60 minute verkry word, te behou.

Tussen al die gerekende voorspelers in die WP-pak, is daar wel ’n groentjie, die plaasvervanger-loskopstut Kwenzo Blose.

Dobson voorspel groot dinge vir dié 24-jarige voorryman, wat in Polokwane gebore is.

“Kwenzo is ’n speler om dop te hou. Sy werkverrigting is ongelooflik en ek wil hê dat hy gereeld moet speel om hom groot te maak vir die Superreeks,” sê Dobson.

Edwill van der Merwe (regs), hier in die Superreeks teen die Sunwolves in aksie, gaan Saterdag sy keer moet ken teen die blitsbuks Rosko Specman. Foto: Gallo Images

Ontledings van onlangse wedstryde wys dat daar deur die loop van kragmetings baie meer lynstane as skrums is en die WP glo dat die Bulle ’n agttal gekies het wat hulle in daardie faset gaan aanval. De Jager kan veral ’n troefkaart wees wat dít betref.

“Dis ’n groot deel van die Bulle se aanslag om op hul teenstander se ingooi in die lynstane mee te ding. Dis ’n afdeling waaraan ons vandeesweek baie hard gewerk het. Ons moet ook seker maak dat ons hulle in die skrums en lynstane onder druk plaas,” sê Van Zyl, die WP se kaptein.

Dillyn Leyds se betrokkenheid by die Springbokke se Rugbykampioenskap-oefenkamp laat die kollig op Van der Merwe op linkervleuel skyn.

Hy was vlugtig in die Superreeks by die Stormers betrokke, maar die CB-reeks bied hom nou ’n geleentheid om te wys dat hy ’n bestendige uitblinker op senior provinsiale vlak kan wees.

Dié Matie-drieëvraat sal egter sy storie op die verdediging moet ken teen die vlugvoetige Specman.

WP: SP Marais, Edwill van der Merwe, Ruhan Nel, Dan Kriel, Seabelo Senatla, Jean-Luc du Plessis, Justin Phillips, Juarno Augustus, Ernst van Rhyn, Jaco Coetzee, Chris van Zyl (k), Salmaan Moerat, Wilco Louw, Scarra Ntubeni, Corné Fourie. PLAASVERVANGERS: Chad Solomon, Kwenzo Blose, Carlu Sadie, JD Schickerling, Chris Massyn, Godlen Masimla, Josh Stander, Craig Barry.

Meer oor:  Blou Bulle  |  Wp  |  Curriebeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.