Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
WP-direkteur bedank, looi unie

“Genoeg is genoeg.”

Met daardie woorde het Raymond van Niekerk, ’n onafhanklike direkteur van die Westelike Provinsie Rugbyunie (WPRU) se sakevleuel, Dinsdag sy bedanking ingedien.

Van Niekerk, ’n voormalige wêreldwye bemarkingshoof van Investec, het op dié drastiese skuif besluit nadat André van der Veen en dr. Johan van der Merwe se termyne as onafhanklike direkteure nie hernu is nie. Van der Merwe was die voorsitter van die sakevleuel en is vervang deur Ebrahim Rasool, verlede jaar nog die ANC se verkiesingshoof in die Wes-Kaap.

Van der Veen het die Amerikaanse konsortium betrek wat tans met die unie onderhandel oor ’n beherende aandeel in die sakevleuel.

Dis soos om vir Pieter-Steph du Toit doelbewus uit jou span weg te laat.
’n Keelvol Raymond van Niekerk het bedank as ’n onafhanklike direkteur van die WP Rugbyunie se sakevleuel.Foto: Gallo Images

“As jy op só ’n sensitiewe plek in die onderhandelinge is om ’n aandeel in jou maatskappy en jy raak ontslae van die mees waardevolle persoon in jou midde, in hierdie geval André, en ook die voorsitter, het jy afskeid geneem van logika. Jy is dán met politiek verstrengel,” sê Van Niekerk.

“Jy sal slegs jou grootste bate verwyder as jy of nie ernstig is oor die ooreenkoms nie, dit wil ondermyn, of nie daaroor omgee nie. Dis soos om vir Pieter-Steph du Toit doelbewus uit jou span weg te laat.”

Van Niekerk sê hy vrees vir die toekoms van die WP se maatskappy (die sakevleuel).

“Die manier waarop die unie sy bate hanteer, wat beroepsrugby is, is hoogs twyfelagtig. Ek dink nie hy begryp die finansiële implikasies van sy aksies nie,” sê hy.

Van Niekerk meen dis van die uiterste belang vir die WPRU om sterk onafhanklike direkteurs vir sy sakevleuel te kry met ’n begrip van kommersiële sake, finansies en hoe om ’n handelsnaam uit te bou. ’n Uitvoerende hoof wat teen die unie kan opstaan, eerder as een wat gedienstig is, is vir Van Niekerk ook van die uiterste belang.

“Gaan hulle onafhanklike direkteure aanstel wat kan opstaan en baklei vir wat reg is vir die maatskappy of mense wat na hul pype gaan dans? Ek kan dit nie voorspel nie, maar ek dink dit moet onder die soeklig geplaas word,” sê Van Niekerk.

Hoe kry jy ’n wenspan? Deur ’n sterk groep spelers wat nie aan die genade van politieke amateurs oorgelaat is nie.

Hy voeg by dat die bedanking van Kevin Kiewitz uit die WPRU se uitvoerende komitee, en daardeur ook die sakevleuel se direksie, ’n voorbeeld is van iemand met sterk oortuigings wat hom nie meer met die unie se manier van dinge doen kon versoen nie.

“Ek het aanvanklik gedink Kevin gaan vurig wees, maar uiteindelik agtergekom dat hy sterk in sy oortuigings is en dis waarom hy nie meer daar is nie. Hy het bedank omdat hy vies was dat die transaksie met Investec (vir die Nuweland-stadion) nie deurgevoer is nie,” sê Van Niekerk.

“In Kevin het die WP ’n bekwame en eerbare prokureur, met vaardighede, verloor, en dan word Dok en André ook uitgeskop.”

Van Niekerk sê daar is baie bekwame mense onder die WP se dagbestuur en hy slaan die afrigters ook hoog aan. Hy vrees egter dat probleme in die raadsale uiteindelik na die speelveld toe kan oorspoel.

“Min spelers se kontrakte strek verder as volgende jaar se reeks teen die Britse en Ierse Leeus. As jou spelers twyfel oor hul finansiële sekuriteit en daar ’n risiko vir hul leefstyl geskep word, gaan hul agente rondkyk vir ander spanne,” sê hy.

“Jy móét ’n suksesvolle span hê, want dis nie soos Engelse sokker waar mense jou ondersteun selfs wanneer jy sleg is nie. Jy moet die besigheid laat groei en trofeë wen. Hoe kry jy ’n wenspan? Deur ’n sterk groep spelers wat nie aan die genade van politieke amateurs oorgelaat is nie.”

• Zelt Marais, president van die WPRU, kon nie vir kommentaar bereik word nie. Dit sal bygewerk word sodra dit ontvang word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.