Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
WP: Dis VSA-belegging of spelers loop
Die Westelike Provinsie sal waarskynlik nie in staat wees om die Springbok-kaptein, Siya Kolisi, te behou as hy nie die belegging in sy sakevleuel toelaat nie. Foto: Getty Images

Die Westelike Provinsie se beroepsrugbyspelers is “reg om te loop” as die unie nie sy nukke laat staan en ontvanklik raak vir ’n aanbod van ’n Amerikaanse konsortium om in sy sakevleuel te belê nie.

Ingeligtes het aan Netwerk24 gesê spelers is bekommerd oor hoe sake verloop en dit het ’n druk besprekingspunt onder hulle begin raak, gegewe dat dit ’n regstreekse invloed op die finansiële welstand van die unie gaan hê. Die oorgrote meerderheid van die WP-spelers se kontrakte verstryk ná die Britse en Ierse Leeus se toer in Suid-Afrika.

Dit sluit Siya Kolisi, die Springbok-kaptein, in en dit sal op roekelose handel neerkom om selfs aan hom ’n nuwe kontrak aan te bied as daar nie genoeg geld is nie. Kolisi, die eerste swart Bok-toetskaptein, word deur die Amerikaanse belegger as ’n “potensieel ikoniese figuur” beskou en is ’n groot trekpleister vir die belegging.

“Die spelers gaan nie bereid wees om kontrakte te hernu as daar nie ’n inspuiting van geld van ’n private belegger in die unie kom nie,” sê ’n betroubare bron.

’n Biografiese skets van Marco V. Masotti.

“Hulle wil weet hoe die toekoms van beroepsrugby in die unie lyk en is bekommerd dat die Amerikaanse aanbod deur die mat kan val. Daar word nie met die spelers gekommunikeer nie.”

Terwyl die WP nog al sy salarisverpligtinge teenoor die spelers nakom, kan die finansies aanstaande jaar begin druk sonder die $6 miljoen wat ’n Amerikaanse konsortium, onder leiding van die oud-Suid-Afrikaner Marco V. Masotti, bereid is om vir ’n beherende belang in die sakevleuel te betaal. Masotti is ’n hoogs gerespekteerde regsgeleerde en sakeman in die VSA.

Van daardie geld is $4 miljoen vir die WP-rugbyunie (WPRU) se sakevleuel, wat die beroepspelers kontrakteer, en $2 miljoen vir die unie se amateurarm bestem. Die unie hou tans 100% van die aandele in die sakevleuel.

Die unie se kontantvloei gaan oor die volgende paar jaar onder druk wees. Met die skuif na die Kaapstad-stadion ’n sekerheid, gaan die WPRU nie meer jaarlikse huur van R15 miljoen vir die gebruik van die Nuweland-stadion by die sakevleuel ontvang nie.

Boonop is die WPRU tot toekomstige ontwikkelinge by Nuweland en Brookside met Flyt Property Investment verbind en is al sy eiendomme as sekuriteit gebied vir ’n lening van sowat R112 miljoen by Dream World Investments 401. Dis dus te betwyfel of hy sekuriteit sal kan bied vir spelers se kontrakte.

Masotti het oor die gang van sy loopbaan in die VSA in hoë kringe beweeg en is ’n passievolle Springbok-ondersteuner.

Die WPRU gaan ook nie onmiddellik al die vrugte van sy transaksies met Flyt pluk nie. Trouens, Flyt het vier jaar om bouplanne vir ’n ontwikkeling by Nuweland goedgekeur te kry en kan hom aan die transaksie onttrek as hy dit nie kan vermag nie. In daardie geval sal die WPRU Flyt se onkostes dra. Die lening aan Dream World is ook oor vier jaar betaalbaar.

Olie op die vuur is die feit dat die unie tans, in die naam van transformasie, poog om André van der Veen, onafhanklike direkteur van die sakevleuel, van die direksie te verwyder. Van der Veen het die Amerikaanse konsortium na die WP toe gebring en sy betrokkenheid sal as ononderhandelbaar beskou word deur die belegger.

John Dobson, die Stormers se afrigter, rapporteer aan Van der Veen.

’n Bron het aan Netwerk24 gesê dat indien die Amerikaanse transaksie voortgaan, die unie graag “vetoreg” wil hê wanneer dit by die aanstel van afrigters kom.

Onder die voorgestelde transaksie sal die belegger die direksie beheer en dis hoogs onwaarskynlik dat hy ’n kompromie oor ’n kritieke aspek soos die aanstel van die senior afrigter sal aangaan.

Meer oor:  Wp Rugby  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.