Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
WP doen dalk ’n ‘Pieter-Steph’ met JD
JD Schickerling se insluiting op die flank kan die Westelike Provinsie ’n puik lynstaanopsie gee vir Saterdag se Curriebeker-rugbywedstryd teen die Haaie in Durban. Foto: Gallo Images

Die Westelike Provinsie het besluit om dieselfde roete met JD Schickerling te stap as wat die Springbokke met Pieter-Steph du Toit doen deur hom as ’n flank te oorweeg.

Schickerling, soos Du Toit ’n gerekende slot, kan straks in die nabye toekoms die WP se belange die beste as ’n losvoorspeler dien.

Juarno Augustus, die agtsteman in Saterdag se oorwinning van 20-5 oor die Blou Bulle op Nuweland, het ’n elmboog én armspier beseer en gaan dalk nie in Saterdag se wedstryd teen die Haaie in Durban kan speel nie.

Die WP se Ruhan Nel spook om aan besit vas te klou in Saterdag se Curriebeker-wedstryd teen die Blou Bulle op Nuweland. Foto: Jaco Marais

Die WP kan vir Sikhumbuzo Notshe op agtsteman kies, maar het ook die interessante opsie om vir Jaco Coetzee van flank af agtsteman toe te skuif. In daardie geval is daar ’n plek op die flank oop. Schickerling het skaflik gevaar toe omstandighede vereis het dat hy die laaste halfuur van Saterdag se wedstryd daar moes speel.

“JD het ’n groot fisieke verskil gemaak. Ons het die week in die aanloop tot die wedstryd met hom op die flank geoefen. As Trokkie (Augustus) uit is, kan ons dalk by JD hou op die flank. Hy is baie vinnig oor die veld,” sê John Dobson, die WP se afrigter.

Wat dié plan veral aanloklik maak, is dat dit die WP gevaarliker in die lynstane sal maak. Augustus is ’n swaar speler wat die bal sterk dra, maar het nie veerkrag nie. In Schickerling het die WP ’n veerkragtige hemelbesem van langer as 2 meter.

Intussen erken Dobson die WP kan aansienlik beter speel as teen die Bulle. Die Kapenaars was by tye onder geweldige druk, maar hul voorspelers het die oorhand gekry en die Bulle veral in die skrums gekarnuffel.

Chris van Zyl, die WP se kaptein, is verheug ná Craig Barry se drie in die doodsnikke van Saterdag se wedstryd teen die Blou Bulle op Nuweland. Foto: Gallo Images

“Ons het nie dryfmale gebruik nie, want ons wou ons energie vir die skrums spaar. Ek weet dis nie juis progressiewe taktiek nie, maar jy moet planne beraam volgens wat jou teenstander jou kant toe gaan bring,” sê Dobson.

“Die Bulle het ’n uitstekende agterlyn en het ons onder baie duik geplaas wanneer hulle die bal geskuif het. Daardie agterlyn gaan veral op Loftus formidabel wees. Die Bulle is een van die beste spanne in die reeks, so dis ’n baie goeie wen vir ons.”

Dobson meen die WP sal sy aanvallende spel moet opknap.

“Soos in die Superreeks met die Stormers het ons selfs wanneer die bal deur fases geneem is nie geleenthede geskep nie. Dit het amper gevoel asof daar ’n muur was.

Die Bulle het ná twee of drie fases reeds nommers in plekke gehad, terwyl ons net voor ’n muur gebly het,” sê Dobson.

“Een van ons planne was om aanvallend te skop en dit het goed gewerk wanneer ons dit gebruik het. Ons moet nou deur ons fasespel meer geleenthede skep. Ons het nie die verdediging onder genoeg druk geplaas nie.”

Curriebeker-bepalings

Curriebeker-puntelys

Curriebeker-uitslae

Meer oor:  Wp  |  Curriebeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.