Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
WP gaan verras met jong groentjie

Die Junior Springbok Rikus Pretorius gaan straks ’n skok-insluiting in die rugbyspan van die Westelike Provinsie wees vir Saterdag se Curriebeker-rugbywedstryd teen die Vrystaat-Cheetahs in Bloemfontein.

Rikus Pretorius, wat verlede jaar nog vir die Westelike Provinsie se o.19-span gespeel het, kan hom in die senior span se begin-vyftiental bevind vir Saterdag se Curriebeker-wedstryd teen die Vrystaat-Cheetahs in Bloemfontein. Foto: Gallo Images

John Dobson, die Streeptruie se afrigter, maak sy span Woensdag bekend en Netwerk24 het betroubaar verneem dat Pretorius vir Dan Kriel op binnesenter gaan vervang.

Pretorius het die Junior Bokke vanjaar in Argentinië verteenwoordig. Ofskoon Pretorius nog net 20 is, is daar min twyfel oor sy vermoë om die fisieke uitdagings van ’n binnesenter op provinsiale vlak te trotseer. Volgens die WP se webtuiste weeg hy 104 kg.

Dobson gaan glo ook die losskakel Josh Stander uit sy 23-tal laat. Die verwagting is dat Damian Willemse die nr.10-trui gaan dra en Jean-Luc du Plessis sy adjudant op die plaasvervangersbank gaan wees.

Terwyl dié wedstryd die WP ’n laaste kans op ’n plek in die halfeindronde bied, sal Dobson waarskynlik ’n span met die oog op die toekoms kies eerder as om hom met die puntelys en die moontlike permutasies te bemoei.

Rikus Pretorius (middel) nadat die Junior Bokke in Junie die bronsmedalje verower het by die o.20-Wêreldtoernooi in Argentinië. Foto: Gallo Images

Stander verlaat die WP aan die einde van dié seisoen en het soos Kriel nie ’n goeie vertoning in die WP se nederlaag teen Griekwas in Kimberley gelewer nie.

Dillyn Leyds (heelagter), Scarra Ntubeni (haker) en Wilco Louw (vaskopstut) gaan na verwagting ook in die WP se beginspan wees nadat hulle verlede naweek vir die Springbokke teen Argentinië gespeel het.

Die kookwater-losvoorspeler Jaco Coetzee sukkel steeds met ’n skouerbesering en is nog nie beskikbaar nie.

’n Moontlike WP-span: Dillyn Leyds, Sergeal Petersen, Ruhan Nel, Rikus Pretorius, SP Marais, Damian Willemse, Justin Phillips, Sikhumbuzo Notshe, JD Schickerling, Ernst van Rhyn, Chris van Zyl, Salmaan Moerat, Wilco Louw, Scarra Ntubeni, Corné Fourie. PLAASVERVANGERS: Chad Solomon, Kwenzo Blose, Neethling Fouché, Juarno Augustus, Nama Xaba, Paul de Wet, Jean-Luc du Plessis, Seabelo Senatla.

Curriebeker-bepalings

Curriebeker-puntelys

Curriebeker-uitslae

Meer oor:  Vrystaat  |  Wp  |  Curriebeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.