Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
WP glo gekweste Leeus sal tande wys

Die Leeus se groot nederlaag teen die Pumas verlede Vrydagaand het niks gedoen om persepsies by die Westelike Provinsie te verander oor die aard van die uitdaging wat Woensdag op Ellispark op hulle wag nie.

“Desperaatheid is ’n baie sterk motiveerder,” sê Ernst van Rhyn, wat die WP in dié Curriebeker-rugbystryd in Johannesburg gaan aanvoer.

Ernst van Rhyn, die WP se kaptein vir Woensdag se Curriebeker-wedstryd teen die Leeus op Ellispark. Foto: Gallo Images

“Dit sou seer gemaak het vir die Leeus,” sê hy.

“Die laaste paar jaar veral was dit vir ons moeilik op Ellispark en is wedstryde in die laaste minuut beslis. Ek dink die Leeus gaan selfondersoek doen ná hul nederlaag, so ons sal seker maak dat ons nie te veel daarin lees nie. Daar is ook een of twee spelers wat terugkeer en hulle sal versterk.”

Wat van die Leeus se kritici dalk uit die oog verloor, is dat hulle baie met Covid-19-kwessies agter die skerms gesukkel het. Verskeie spelers is ook nog van langtermynbeserings aan die herstel. Van dié spelers is egter op pad terug en gegewe dat hulle uitsluitlik die senter Wandisile Simelane aan die Springbok-kamp afgestaan het, behoort die Leeus eintlik onder die gunstelingspanne te wees om die Curriebeker te wen, indien nie dié gunsteling nie.

Sou die WP hom in ’n posisie bevind waar hy ’n voorsprong op Ellispark opbou, wil Van Rhyn sien dat die Streeptruie ’n veel beter poging aanwend om dit te beskerm as wat in die onlangse verlede die geval was.

“In ons laaste paar wedstryde (Stormers ingesluit) het ons spanne toegelaat om terug te kom in wedstryde en dan het ons sake sodoende vir onsself naby aan die einde bemoeilik. Ons wil seker maak dat ons ’n voorsprong kan behou,” sê hy.

Die noodlot het die WP intussen gedwing om sy agterste driehoek te wysig. Tim Swiel, wat verkies om losskakel te speel en waarskynlik ook die WP se beste opsie vir die nr. 10-trui is, is op heelagter gekies. Dít omdat Sergeal Petersen vleuel toe geskuif is weens ’n besering by Sihle Njezula.

Edwill van der Merwe is nie op die oomblik beskikbaar nie, maar behoort gereed te wees vir 30 Junie se wedstryd teen die Haaie in die Kaapstad-stadion.

Swiel het al vantevore heelagter gespeel en Dawie Snyman, die WP se agterlynafrigter, verwag nie dat hy in die laaste vesting sal sukkel nie.

“As jy ons wedstryde bestudeer, sal jy sien dat ons die losskakel en heelagter op ’n soortgelyke manier aanwend. Ons gebruik albei as eerste ontvangers van die bal so dis lekker om as’t ware twee losskakels te hê,” sê Snyman.

Daar is ook twee veranderinge aan die WP se losvoorspelerkombinasie, met Juarno Augustus wat as agtsteman begin en Evan Roos wat gevolglik flank toe skuif. Marcel Theunissen vervang Niel Otto as die nr. 6-flank.

Godlen Masimla word vandeesweek bo Paul de Wet op skrumskakel verkies.

WP-span: Tim Swiel, Sergeal Petersen, Rikus Pretorius, Dan du Plessis, Seabelo Senatla, Abner van Reenen, Godlen Masimla, Juarno Augustus, Evan Roos, Marcel Theunissen, David Meihuizen, Ernst van Rhyn (k), Neethling Fouché, JJ Kotze en Ali Vermaak. PLAASVERVANGERS (uit): Jason Alexander, Leon Lyons, Sazi Sandi, Justin Basson, De Wet Marais, Johan du Toit, Paul de Wet, Cornel Smit, Lee-Marvin Mazibuko, Hacjivah Dayimani en Niel Otto.

Skeidsregter: AJ Jacobs

TV: 19:00 op SS Grandstand (201), SS Rugby (211) en GDN.


Meer oor:  Westelike Provinsie  |  Wp  |  Curriebeker  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.