Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Curriebeker: WP Haaikos in Durban

Die Haaie het Saterdag op Kingspark in Durban hul name in ere herstel deur die Westelike Provinsie in ’n boeiende Curriebeker-rugbywedstryd met 32-27 te klop.

Curwin Bosch was ’n meneer vir die Haaie in Saterdag se Curriebeker-wedstryd teen die Westelike Provinsie op Kingspark in Durban. Foto: Gallo Images

Verlede naweek moes die Durbaniete hul koppe in skaamte hang ná hulle op hul tuisveld deur Griekwas verneder was, maar nou kan hulle breëbors rondstap. Dit was die eerste keer sedert 2017 dat die WP in ’n ligawedstryd in die CB-reeks geklop is.

Die Haaie verdien ’n reuse pluimpie vir hul verdediging. Die WP het veldgebied en balbesit oorheers, maar by tye nie geweet waarheen om volgende te gaan nie en hulle ongeduld het op kritieke tye op foute uitgeloop.

Dis amper asof daar ’n babalas is ná die Stormers só gesukkel het om die pad doellyn toe te vind in die Superreeks.

’n Kritieke verskil tussen die spanne was op losskakel. Vir die WP het Jean-Luc du Plessis baie foute gemaak – die grootste ’n selfmoordaangee vroeg in die tweede helfte wat deur JP Pietersen onderskep is vir ’n drie.

Daarenteen was Bosch baie goed vir die Haaie en het ’n bres wat hy in die eerste helfte geslaan het op ’n geelkaart vir die WP se skrumskakel, Justin Phillips, en daarna ’n drie uitgeloop.

Die Haaie was nadat hulle van die agtervoet af geboks het met rustyd met 15-10 voor danksy drieë deur die vleuels Lwazi Mvovo en Kobus van Wyk.

Op hul beurt het die WP net Jaco Coetzee se drie gehad om te wys ná ’n eerste helfte waar hulle byna 60% van die balbesit gehad het.

Die Kapenaars is ná Pietersen se drie tot inhaalrugby verdoem. Met Bosch wat daarna boonop ’n strafdoel bygevoeg het was die Haaie 15 punte voor.

Die WP het geduldig aan die deur geklop en Ruhan Nel en Josh Stander het albei afgerond.

’n Stukkie puik spel deur Van Wyk was egter beslissend vir die Haaie. Hy het van die kantlyn af ingesny en verby ’n paar verdedigers getrippel voordat hy die bal vir Craig Burden aangegee het om te druk.

Die WP het enduit baklei, maar hul laaste kans is verbrou deur ’n liederlike poging tot ’n eenhand-aangee deur SP Marais. Dis iets wat hy heeltemal te graag doen en het min of meer die WP se vertoning met die bal in die hand opgesom.

Puntemakers:

Haaie 32 (15): Drieë: Lwazi Mvovo, Kobus van Wyk, JP Pietersen, Craig Burden. Doelskoppe: Curwin Bosch (3). Strafdoele: Bosch (2).

WP 27 (10): Drieë: Jaco Coetzee, Ruhan Nel, Josh Stander. Doelskoppe: SP Marais (3). Strafdoele: Marais (2).

Meer oor:  Curwin Bosch  |  Haaie  |  Westelike Provinsie  |  Curriebeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.