Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
WP haal tjekboek uit en wys

Damian Willemse het sy kontrak met die Westelike Provinsie met drie jaar verleng, maar die Springbok-haker Bongi Mbonambi is volgens sy agent nie haastig om ’n besluit oor sy toekoms te neem nie.

“Bongi sal tot ná die Reënboogbeker-kompetisie en die reeks teen die Britse en Ierse Leeus wag voordat hy ’n finale besluit neem,” het Gert Andries van der Merwe, Mbonambi se agent, aan Netwerk24 gesê.

Damian Willemse (regs) het sy kontrak met die Westelike Provinsie met drie jaar verleng, maar Bongi Mbonambi se agent sê die Springbok-haker gaan eers later oor sy toekoms besin. Foto: Gallo Images

Ses ander spanne – twee in Japan, twee in Brittanje en plaaslik die Bulle en Haaie – stel volgens Van der Merwe belang om Mbonambi se dienste te bekom.

Die WP baklei hard om sy sterre te behou. Scarra Ntubeni, die Kaapse span se ander Bok-haker, en die Bok-loskopstut Steven Kitshoff het glo nuwe kontrakte met die WP gesluit. Dit is egter nog nie amptelik aangekondig nie.

Daar is ook sprake dat ’n nuwe kontrak John Dobson, die hoofafrigter, beskore is.

Willemse (22) was vir die WP ’n belangrike kontrak om te beklink. Dit is so dat hy nie ’n wafferse seisoen agter die rug het nie en sal moet leer om minder individualisties te speel, maar sy talent is in die rugbygemeenskap onbetwis.

Trouens, Jake White, die Bulle se afrigter, het openlik oor sy belangstelling in Willemse gepraat. Willemse is egter van plan om op sy 40 wedstryde vir die Stormers en 24 vir die WP voort te bou.

Die feit dat die WP nie skaam is om groot tjeks te skryf nie is desondanks die feit dat die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) glo tans die Kaapse unie se finansiële posisie amptelik ondersoek.

Indien die moederliggaam nie tevrede is dat ’n unie of sy sakevleuel aan finansiële vereistes voldoen nie, bevind dat hy nie volgens gesonde korporatiewe bestuursbeginsels optree of sy geld nie uitsluitlik vir rugbysake aanwend nie, is hy by magte om die unie onder administrasie te plaas.

Saru wou nie kommentaar lewer op ’n navraag of daar tans ’n ondersoek na die WP se finansiële sake is nie.

’n Troefkaart vir die WP kan dalk ’n belegging in sy sakevleuel wees. Netwerk24 het betroubaar verneem dat nóg ’n Amerikaanse konsortium belangstel om in sy sakevleuel te belê.

Dit volg op die mislukte onderhandelinge met MVM Holdings, wat sedertdien in die Haaie belê het.

Ebrahim Rasool, voorsitter van die WP Rugbyunie se sakevleuel, sê daar is verniet kommer oor of die WP ’n lopende saak is. Foto: Gallo Images

Ebrahim Rasool, voorsitter van die WPRU se sakevleuel, en Zelt Marais, die WPRU se president, het vandeesweek skriftelik aan Netwerk24 gesê dat die WP nie voor ’n finansiële afgrond staan nie.

“Wees asseblief seker daarvan dat WP Rugby ’n lopende saak is . . . Meeste van ons spelers het hulle daartoe verbind om vir die volgende drie jaar in die WP te bly, in pas met ons Visie 2023. Alle huidige borge het hulle weer verbind en ’n nuwe een het bygekom,” het hulle gesamentlik gesê.

“Die WP is sedert die aanvang van die pandemie (Covid-19) vroeg in 2020 gereeld en voortdurend in gesprek met Saru. Die kern van die gesprekke handel oor kwessies wat sport in die algemeen raak, veral rugby, en in ons geval die spesifieke omgewing van die WP.

“Die huidige prosesse verskil nie van die afgelope jaar s’n nie. Dit sluit in die verskaffing van inligting aan Saru wat ons hoop aan hulle insig sal gee oor die uitdagings wat ons in die gesig moet staar weens die bedryfstoestande die afgelope jaar.

“Ons glo dat hulle dalk ook met ander unies praat oor die toestande wat deur die pandemie en onsekerheid rakende die toer van die Britse en Ierse Leeus geskep is.”

Meer oor:  Westelike Provinsie  |  Damian Willemse  |  Steven Kitshoff  |  Wp  |  Bongi Mbonambi  |  Scarra Ntubeni  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.