Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Stormers se baas is geknak, bedank
WP-hoë Paul Zacks vat pad ná twis

Paul Zacks is klaar met die Stormers en die WP. Die uitvoerende hoof van WP Rugby het ná maande van venynige twiste en onmin in WP se bestuursgeledere geknak en besluit om ’n skeidingspakket te aanvaar ter wille van sy gesondheid en eie beswil.

Zacks se skok-vertrek by Nuweland kom minder as drie weke voordat die Stormers hul 2020-seisoen in Superrugby in ’n tuiswedstryd teen die Hurricanes afskop.

Paul Zacks. Foto: Gallo Images

’n Tussentydse komitee sal WP Rugby se sake bedryf tot tyd en wyl ’n heeltydse uitvoerende hoof weer aangestel word.

Ná byna ’n jaar van binnegevegte, waartydens die unie se amateurvleuel (WPRVU), onder leiding van die unie-president, Zelt Marais, hom al hoe meer by die daaglikse bestuur van die sakevleuel ingemeng het, het Zacks nou genoeg gehad.

Volgens twee onberispelike bronne sal WP Rugby “binne dae” ’n aankondiging oor sy vertrek maak. Dit is glo ’n uitgemaakte saak dat Zacks as uitvoerende hoof sal bedank.

Zacks se vertrek volg kort op die hakke van groot drama einde verlede jaar toe ’n dokument, met nadelige bevindinge rakende ’n art. 417-ondersoek na die likwidasie van WP se sakevleuel in 2016, aan die media uitgelek is.

Zacks het toe ’n brief van die WP-raad ontvang waarin hy gevra is vir sy reaksie op “aantygings van wangedrag rakende die getuienis wat u tydens die art. 417-ondersoek onder eed afgelê het”.

Die direksie is glo al sedert Januarie 2019 in besit van dié verslag, maar het byna ’n jaar gewag voordat hulle Zacks gevra het om daarop te antwoord.

Rapport het reeds voorheen berig dat die stres van die onmin in WP se geledere Zacks se gesondheid benadeel het en dat hy in ’n stadium in die hospitaal opgeneem is.

Dit blyk nou hy het oor die feestyd besluit het hy het genoeg gehad.

Rapport kan ook onthul dat die daaglikse bestuur nou behartig word deur ’n komitee bestaande uit vier direkteure van die sakevleuel se raad, twee WPRVU-direkteure en twee onafhanklike direkteure.

Dit is nie duidelik hoe dit Zacks se take raak nie, maar dit word volgens ingeligtes gedoen sodat die Stormers se bestuurspan kan konsentreer op hul werk sonder om by die binnegevegte betrokke te raak.

Zacks was in die spervuur van sekere bestuurslede omdat die omkeerstrategie wat hy in 2016 ingestel het, nie vrugte afgewerp het nie en hy gevolglik die steun van die sakevleuel verloor het. Die sakevleuel het verlede jaar ’n verlies van R40 miljoen gemaak en was met tye naby aan bankrotskap.

Zacks was wel die argitek van die finansiële ooreenkoms waarvolgens die bankreus Investec R110 miljoen in WP Rugby geploeg het om die Nuweland-stadion te herontwikkel.

Hy was ook agter die planne om na die Kaapstad-stadion te verhuis.

Die twis tussen hom en Marais het gevolg nadat die WP-president ’n kantoor by die sakevleuel betrek het en self by die daaglikse bedrywighede betrokke geraak het.

Nóg Zacks nóg Marais het op Rapport se navrae gereageer.

  • Intussen moet WP Rugby en die WPRVU albei nog vure doodslaan nadat die vakbond Sports Employees Unite (SEU) ’n saak teen hulle by die Kommissie vir Bemiddeling, Versoening en Arbitrasie (KBVA) gemaak het.

Dit kom nadat onderhandelinge oor salarisverhogings vir 2020, asook bonusaftrekkings, doodgeloop het.

Weens die unie se swak finansiële posisie is daar tans ’n verbod op nuwe aanstellings. Daaroor het die WPRVU en SEU reeds koppe gestamp, nadat Marais ’n persoonlike assistent aangestel het.

Dié saak is nog hangende.

SEU het voorgestel dat werknemers in 2020 eerder ’n eenmalige bonus van R10 000 elk as ’n 13de tjek ontvang, en dat die verbruikersprysindeks as maatstaf vir verhogings gebruik word.

Die voorstelle is verwerp.

SEU het ook voorgestel dat ’n nuwe bonusstruktuur vir werknemers ondersoek moet word en in November vanjaar ingestel word.

Meer oor:  Stormers  |  Paul Zacks  |  Uitvoerende Hoof  |  Aanvaar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.