Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
WP hoes R200 000 vir Bantom se regskoste

Die WP Rugbyunie het meer as R200 000 aan regskoste opgedok vir ’n amptenaar wat die unie hof toe gesleep het – al het die WPRU die saak gewen.

Ronald Bantom

Die saak is gebring deur Ronald Bantom, wat die afgelope week in ’n verrassende wending tot die WPRU se uitvoerende komitee verkies is.

Bantom het twee jaar gelede die WPRU hof toe gevat omdat hy aan die vooraand van ’n verkiesing geskors is en daarom verhinder is om die pos van WPRU-visepresident los te slaan.

Bantom het sy aansoek om ’n dringende interdik met koste verloor, maar Zelt Marais – as destydse pasverkose president van die unie – het aangedring dat Bantom se regskoste deur die WP gedek word.

Daarbenewens moes die WP ook pa staan vir sy eie regskoste, wat beteken het die hele geding in die hooggeregshof in Kaapstad het die unie amper R400 000 uit die sak gejaag.

Rapport verneem daar was ’n hewige debat in die uitvoerende raad oor die besluit om Bantom se koste te dek, maar Marais het hard geveg daarvoor. Een bron het gesê Marais is met “ ’n mosie van wantroue” gedreig as Bantom sy eie regskoste moes betaal.

Bantom word wyd beskou as die dryfkrag agter Marais se veldtog om president te word, maar is drie dae voor die verkiesing in 2018 daarvan beskuldig dat hy die unie in oneer gebring het.

Spencer King, die enigste oorblywende kandidaat vir die visepresidentskap, is toe onbetwis in die amp verkies.

Bantom se destydse skorsing het gespruit uit ’n woordewisseling met Jessie Claassen, die nasionale bestuurder van die SA Rugby Legends se Vuka-program, in Julie 2017. Claassen het onder meer aangevoer dat Bantom kru taal teenoor hom gebruik het.

Marais het ná sy verkiesing die tugstappe teen Bantom laat vaar en aan Die Burger gesê dat Bantom se “integriteit” in ere herstel moet word.

“Daar was mense met politieke agendas. Dis alles deur politiek gedryf,” het hy gesê. “As daar onregverdig teenoor iemand opgetree is, moet jy doen wat reg is.”

Zelt Marais
Zelt Marais Foto: Gallo Images

Claassen het aangevoer Marais het Bantom beloon vir die aanvoorwerk wat hy vir hom gedoen het. Hy het dit destyds oorweeg om die saak in die howe verder te voer, maar het gister gesê hy het dié planne laat vaar, onder meer omdat hy besorg was oor sy gesin se veiligheid.

Hy sê hy het verlede week – kort voor Bantom se verkiesing – ’n anonieme oproep ontvang van iemand wat wou weet: “Wat de f** is jou probleem met Ronald Bantom?”

Claassen het gesê die oproep “bevestig dat die ouens alles vir hom in plek sal sit”.

“Ek kon nie my vrou en kinders se veiligheid waag nie. Hulle (die WP) moet maar aanneuk.”

Hy het ook gesê daar het dadels gekom van beloftes dat ’n skikkingsgesprek gereël sou word tussen hom en Bantom.

Marais het gesê Bantom is demokraties verkies.

“Die aanklag teen mnr. Bantom is teruggetrek en die aangeleentheid is volledig bekend gemaak.”

Bantom het nie op Rapport se navrae geantwoord nie.

Die WP het die afgelope week aan sy werknemers gesê daar is weens ’n geldtekort en die Covid-19-krisis nie geld vir bonusse en salarisverhogings nie.

Meer oor:  Zelt Marais  |  Regskoste  |  Wpru
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.