Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
WP kan ‘beheer’ prysgee . . . as hy móét

Die Westelike Provinsie Rugbyunie (WPRU) sou nie sy transaksie vir eiendomsontwikkelings saam met Flyt Property Investment beklink het as hy nie bereid was om dié maatskappy beheer oor hul gesamentlike ontwikkelingsondernemings te gee nie.

Dít blyk uit ’n onlangse onderhoud wat Netwerk24 met Zane de Decker, besturende direkteur van Flyt Property Investment, gevoer het.

Zane de Decker, besturende direkteur van Flyt Property Investment, sê sy maatskappy, nie die WPRU nie, sal die kitaar op direksievlak van hul eiendomsvennootskappe slaan. Foto: Argief

Beheer is tans ’n struikelblok in die WPRU se onderhandelinge met ’n Amerikaanse belegger, wat ’n aandeel van 51% in die Kaapse unie se sakevleuel wil bekom, maar dit op voorwaarde sal doen dat hy die meerderheid van die direkteure kan aanstel. Die WPRU wil ’n gelyke getal direkteure hê en beroepsrugby beheer.

By die ontwikkelingsmaatskappye waarin die WPRU en Flyt gelyke aandeelhouers gaan wees, slaan die rugbyunie egter nie die kitaar nie.

“Die direksie bestaan uit vyf lede, waarvan ons drie en die WPRU twee het,” het De Decker verduidelik.

“Ons het deur die loop van Junie lank daaroor debat gevoer, gepraat en onderhandel. Dis doodeenvoudig ’n geval van ons wat die finansiële risiko loop en eiendoms-spesialiste is. Ons móét dus in beheer van die direksie wees. Dit sal op geen ander manier werk nie.”

De Decker het bygevoeg dat Flyt die WPRU graag betrokke wil hê en sy insette kry.

Junaid Moerat (regs) is ’n gewilde keuse onder klubs om as die WP Rugbyunie se uitvoerende hoof aangestel te word. Foto: Gallo Images
Zelt Marais, die WP Rugbyunie se president, moet ’n konstante eierdans uitvoer om aan klubs se wense te voldoen. Foto: Gallo Images
Paul Treu bly ’n gewilde keuse onder die WP se klubs om op afrigtingsvlak betrokke te raak. Foto: Gallo Images
Peter de Villiers, die voormalige Springbok-afrigter, sal in die prentjie wees om die Stormers af te rig as van die klubs in die Westelike Provinsie hul sin sou kry. Foto: Gallo Images

“Wat die aandeelhouding betref is dit 50/50, al beheer ons die direksie, maar daar is deursigtigheid en die WPRU kan formeel deelneem.”

Marco V. Masotti, die Amerikaanse regsgeleerde en sakeman aan die spits van ’n konsortium wat $6 miljoen in die WPRU ($4 miljoen in die sakevleuel en $2 miljoen in die unie) wil belê, blyk veel dieselfde benadering te hê.

’n Beherende belang in die sakevleuel vir die belegger sal egter die mag van die WPRU se verkose beamptes om sleutelaanstellings in beroepsrugby te beïnvloed, aansienlik verswak. Die unie sal ook nie in staat wees om na willekeur ontslae te raak van direkteure wat hy glo in die pad van sy agendas staan nie.

Tans loop die gerugte sterk dat die WPRU juis beplan om van André van der Veen en dr. Johan van der Merwe, wat tans op die sakevleuel dien, ontslae te raak.

Van der Veen het die Amerikaanse belegger gevind.

Dis ’n ope vraag hoeveel steun daar vir die Stormers se hoofafrigter, John Dobson, uit amateurgeledere in die WP is. Foto: Gallo Images

John Dobson, die Stormers en WP se hoofafrigter, kan glo ook op weinig steun uit unie-geledere staatmaak.

Die name van Paul Treu en Peter de Villiers – onderskeidelik as moontlike direkteur van rugby en hoofafrigter – is glo ook op die wenslys van Zelt Marais, die president, se ondersteuningsbasis.

Die wens bestaan glo ook in unie-geledere dat Junaid Moerat as uitvoerende hoof aangestel moet word. Dít is opsigself ’n teelaarde vir baie konflik, omdat die uitvoerende hoof sowel die sakevleuel as die unie dien. Die sakevleuel sal waarskynlik ’n groter klem plaas op die betrokke kandidaat se ervaring in die sakewêreld en toepaslike akademiese kwalifikasies.

Of sulke agendas uitvoerbaar sal wees wanneer ’n belegger die kitaar op die sakevleuel slaan, is te betwyfel. Maar as die Flyt-transaksie enigiets wys, is dit dat die WPRU hom nie onbepaald hardekwas kan hou in die aangesig van finansiële werklikhede nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.