Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
WP-klubs kry koue voete oor stadionskuif

Daar’s waarskynlik nie meer omdraaikans nie, maar die Westelike Provinsie se skuif van Nuweland na die Kaapstad-stadion toe raak ’n toenemend netelige saak.

Die Kaapstad-stadion, die WP-rugbyunie se nuwe tuiste. Foto: Gallo Images

Die stadionkwessie is glo Maandagaand op ’n spesiale vergadering van die Westelike Provinsie-rugbyunie (WPRU) deur klubs aangeroer.

Daar is veral ongelukkigheid oor die WPRU se “gebrek aan kommunikasie” aangaande die kwessie en dat losies bemark word nog “voordat ’n finale ooreenkoms onderteken is”.

Van die klubs voel glo daar moet herbesin word oor die skuif, maar sover dit die WP se grootbase betref, gaan daar nie ’n ommeswaai wees nie.

“Die prosesse is onderweg om ons skuif na die Kaapstad-stadion toe te bestuur en te finaliseer,” het Zelt Marais, WPRU-president, en Ebrahim Rasool, voorsitter van die WPRU-sakevleuel, in ’n gesamentlike verklaring aan Netwerk24 gesê.

“Ons dra kennis van die bekommernisse wat deur sekere klubs verwoord is . . . en doen alles wat ons kan om dit te hanteer.”

’n Antwoord is egter nie gegee op die vraag of ’n finale ooreenkoms al onderteken is nie.

Die finansiële implikasies van die skuif, veral gegewe die feit dat huur betaal gaan word terwyl die Stormers en WP gratis op Nuweland kon speel, is ’n brandpunt.

Ofskoon die klubs reeds die jawoord vir ’n skuif gegee het, maak ’n klousule in die WPRU se grondwet voorsiening vir hulle om die besluit te hersien.

Of dit prakties moontlik is, is egter ’n ope vraag. Die WP moet 30% van die boukoste van die nuwe losies in die Kaapstad-stadion dra, wat daarop neerkom dat hy oor 25 jaar ’n totaal van R75 miljoen sal moet betaal.

Boonop het DHL, die WP se hoofborg, ook al die naamregte vir die stadion bekom.

Die Kaapstad-stadion se base bemark ook reeds “Business Lounge”-lidmaatskap, wat 2 100 van die beste sitplekke in die stadion insluit. Die pryse sal van R8 000 tot R15 000 wissel.

Ruben Machelm, wat as die uitvoerende hoof van die WP-rugbyunie se sakevleuel waarneem.

Intussen sal Ruben Machelm (59), tans die WPRU-president se uitvoerende assistent en notulesekretaris en die uitvoerende komitee se notulesekretaris, as uitvoerende hoof van die unie se sakevleuel waarneem. Dié skuif kom ironies genoeg sowat 18 maande nadat personeel en die vakbond Sport Employees Unite (SEU) teen sy aanstelling by die WP kapsie gemaak het.

Rasool het die nuus by navraag aan Netwerk24 bevestig.

“Ruben Machelm is gesekondeer om in die posisie as uitvoerende hoof waar te neem tot tyd en wyl ’n nuwe uitvoerende hoof aangestel word,” sê hy.

“Ons het as ’n direksie van die WPPR (die sakevleuel, Westelike Provinsie Professionele Rugby) besluit dat ons nie langer met ’n administratiewe kloof in ons bedrywighede kan aanhou, soos ons gedoen het toe ’n streng staat van inperking gegeld het, nie.”

Die WP se laaste heeltydse uitvoerende hoof, Paul Zacks, het vroeg in 2020 die tuig neergelê, waarna die unie en sy sakevleuel vir ’n rukkie deur ’n viermankomitee bestuur is. Uiteindelik was Marais die enigste van die vier wat oorgebly het.

Machelm is laat in 2019 as Marais se uitvoerende assistent aangestel. Personeel van die WP het toe by SEU kapsie gemaak. Hulle het nie van die “pos” kennis gedra nie.

Piet Heymans, SEU se uitvoerende hoof, het Machelm se aanstelling toe as “onreëlmatig” bestempel en die saak het voor die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) gedraai.

Die aanstelling is egter deurgevoer omdat daar volgens Heymans voor die KVBA aangevoer is dat Machelm se kontrak slegs vir ses maande tot die einde van Maart 2020 sou geld. Heeltydse werknemers is dus nie ’n geleentheid ontneem om vir ’n pos aansoek te doen nie.

Machelm se aanstelling volg op die skorsing, hangende ’n tugverhoor, van Junaid Moerat as ’n lid van die WPRU se uitvoerende komitee – glo omdat hy na bewering inligting aan die media uitgelek het.

Moerat sou aanvanklik as uitvoerende hoof waargeneem het, maar is geskors op die dag dat hy sou begin werk het. Sy tugverhoor is nou al twee keer uitgestel en ’n nuwe datum nog nie vasgestel nie.

Die WP het onlangs op sy webtuiste ’n advertensie geplaas vir die posisie van heeltydse uitvoerende hoof, wat ’n vyfjaarkontrak sal wees.

Meer oor:  Wpru  |  Zelt Marais  |  Kaapstad-Stadion  |  Ebrahim Rasool  |  Nuweland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.