SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Rugby
Westelike Provinsie knak Bulle voor

Die Westelike Provinsie en Blou Bulle het duidelik nie die memo van opwindende Curriebeker-rugby by die res van die spanne in die reeks gekry nie.

Anders as in die naweek se eerste twee wedstryde, het die reeks se mees suksesvolle spanne hul veldtog afgeskop met ’n haak-haak wedstryd. Rustyd het die telbord op 5-5 gestaan, sprekend van die spel in daardie eerste 40 minute.

Uiteindelik het die WP, danksy sy oorheersing voorlangs, met 20-5 die knoop deurgehaak vir ’n belangrike eerste oorwinning.

Die Bulle sal wel voel dat hulle beter moes gedoen het.

Elke keer as hulle op die aanval was, het hulle skerp gelyk, veral met agterlyn-angels soos die vleuels Rosko Specman en Cornal Hendricks wat hul bene pal kon strek soos hulle veld af gehardloop het. Specman het sommer vroeg die Nuwelandse skare van 11 355 hul asem laat ophou.

Craig Barry (nr. 23) word deur sy WP-spanmaats oorval ná sy drie teen die Bulle. Foto: gallo

’n Knap binne-aangee van Bruger Odendaal, Bulle-kaptein en senter, het Specman deur ’n gaping gesit en die vlieënde vleuel se versnelling het die WP se verdediging agtergelaat. Sy aangee na Hendricks het so byna vir ’n drie gesorg, maar puik dekverdediging deur die WP se skrumskakel, Justin Philips, het dié poging gestuit.

Die WP het goed gedoen om uit hul kwartgebied te kom net om die bal in die Bulle se kwartgebied te verloor en dit is waar drie nommer een sy oorsprong gehad het.

Tim Agaba, flank van die Bulle, het die losbal opgepik en aan sy skrumskakel, Embrose Papier, gegee wat van net buite sy kwartgebied ore platgetrek het en veldaf genael het vir ’n goeie opportunistiese drie.

Die Bulle het ’n tydjie ná die drie die oorhand gehad voordat die Streeptruie se senter Ruhan Nel in die 26ste minuut gaan druk het om sake gelyk te maak.

Nel het met ’n paar verdedigers wat hom probeer stuit het, die bal agter die doellyn geplant nadat hy kort voor die wit lyn gelak is. Hy het egter koelkop gebly om uit te strek. Nel het ook ’n paar goeie lopies ingekry in die middelveld en was oudergewoonte rotsvas op die verdediging. Sy drie het gekom danksy aanvoorwerk van sy sewesmaat, Seabelo Senatla, wat ’n goeie bres geslaan het om veld vir sy span te wen.

In die tweede helfte het die twee aartsvyande hul armdruk-stryd voortgesit met geleenthede wat hulle hier en daar voorgedoen het, maar geeneen van die spanne kon toeslaan nie.

Die WP het steeds in die tweede helfte die kitaar in die skrums geslaan en het net soos in die eerste 40 minute, strafskoppe in dié afdeling afgedwing.

’n Oorgooi-lynstaan van die Bulle het tot die WP se tweede drie gelei nadat Scarra Ntubeni op die lynstaanbal toegesak het. Die WP het vanuit hul halfgebied aangeval en ’n stukkie slinkse en vinnige dinkwerk agter ’n warboel-losskrum het aan die WP-agsteman, Juarno Augustus, sy vyfpunter besorg.

Sy drie is vanaf die kantlyn deur SP Marais, heelagter van die WP, verdoel met die einste Marais wat ook ’n monster strafdoel 50 m ver deur die pale geklits het om sy span op 15-5 bietjie beter laat asemhaal het.

Die Bulle was desperaat vir ’n drie om ’n bonuspunt moontlik te melk, maar hul oorhaastigheid het ’n drie aan Craig Barry, plaasvervanger-vleuel van die WP, besorg.

Meer oor:  Westelike Provinsie  |  Blou Bulle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.