Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
WP knoop sedert 2010 Bul-sterte

Kan dit wees? Die Blou Bulle het laas in 2009, toe Morné Steyn se strafdoel diep in die halfeindstryd Kaapse harte gebreek het, die Westelike Provinsie in ’n Curriebeker-rugbywedstryd op Nuweland geklop.

Die Streeptruie verdedig dus Saterdagaand ’n trotse rekord van tien wenne en ’n gelykopstryd in hul laaste 11 CB-wedstryde teen die Ligbloues in die Kaap. Die 11 bestaan uit agt ligawedstryde, twee halfeindstryde en ’n kwalifiserende wedstryd.

Jake White, die Bulle se afrigter, hoef dus nie vandeesweek kreatief te dink oor sy spanpraatjie voor afskop nie.

Maar sy eweknie in die Kaap, John Dobson, hoef self net sy span se aandag te vestig op wat op die spel gaan wees. Die Pretorianers het ná die Superrugby Unlocked-reeks, waar hulle die voordeel gehad het om ’n wedstryd meer as die Stormers te speel, 23 punte na die CB-reeks toe oorgedra. Die Stormers het tweede op 19 geëindig.

Morné Steyn in aksie vir die Blou Bulle in 2009 se Curriebeker-halfeindstryd teen die Westelike Provinsie op Nuweland, waar hy die wedstryd met ’n strafdoel beklink het. Foto: Gallo Images
Sireli Naqelevuki was op sy beste ’n skitterende vleuel, maar sal WP-ondersteuners hom vir enigiets anders onthou as die hoogvat wat die Streeptruie ’n plek in 2009 se Curriebeker-eindstryd gekos het? Foto: Gallo Images

Nou het die WP ’n oorwinning nodig om die Bulle in te haal.

Aan die Bulle se kant is die denkrigting dat hulle as’t ware twee “wenne” voor die WP kan wees as die voorsprong na agt of nege punte gerek word. Dit is moeilik om te sien hoe die Streeptruie hul tradisionele aartsvyand dan op die punteleer sal kan inhaal.

Daar’s dus ’n bietjie meer druk op die WP.

In daardie opsig kan dit help dat Siya Kolisi, die Springbok-kaptein, na verwagting ná ’n dyspierbesering gaan terugkeer. Moontlik sal dit vir eers van die plaasvervangersbank af wees, want Kolisi se besering was ’n skeur.

Dan is daar ook sprake dat die blits Seabelo Senatla fiks kan wees. Sy ervaring kan waardevol wees en hy kan moontlik in die plek van Angelo Davids oorweeg word.

Ruhan Nel lyk soos ’n gesoute vleuel sedert hy vroeg in die WP se wedstryd teen Griekwas in Kimberley in die plek van die beseerde Edwill van der Merwe opgestuur is.

Russell Winter, wat nou in diens van die Blou Bulle is, was uiters gewild onder die WP se spelers toe hy in die Moederstad afgerig het. Foto: Gallo Images
Henning Gericke, wat nou die Bulle se kopdokter is, ken baie van die Westelike Provinsie se spelers uit sy tyd in die Kaap. Foto: Gallo Images

Terwyl hulle nie noodwendig op papier só sterk soos die WP gaan wees nie, bring die Bulle in hul bestuurspan groot troewe Kaap toe.

Om mee te begin het hulle in White ’n afrigter wat al ’n gewoonte daarvan gemaak het om te wen. Baie mense delf soms in White se persoonlikheid in om fout te soek, maar waarom? Hy het niks om hom oor te skaam wat sy wenrekord betref nie.

Dan het die Bulle ook twee voormalige sleutel-werknemers van die WP – Russell Winter (voorspelerafrigter) en Henning Gericke (sielkundige) – in hul midde.

Winter was uiters gewild by die Stormers-spelers, terwyl Gericke sal weet watter knoppies om te druk.

Die WP kan ook nie soos in die verlede op ’n passievolle tuisskare staatmaak nie omdat die wedstryd in ’n leë stadion gespeel word.

Hierdie is dus ’n wedstryd waar die senuwees meer by die WP as by die Bulle sal knaag. Die Bulle het wenmomentum, die doepa van ’n trofee en die motivering om die gety van die geskiedenis te draai.

Terselfdertyd behoort die Streeptruie bitter hard te baklei om te sorg dat hulle die laaste ligawedstryd teen hul aartsvyand op Nuweland wen. Tensy dié spanne in die uitspeelrondes in die Kaap speel, is hierdie ’n vaarwel aan die wedywering oor dekades in dié roemryke stadion.

WP t. Blou Bulle

CURRIEBEKER-WEDSTRYDE OP NUWELAND SEDERT 2010

14/08/2010: WP 15, Blou Bulle 12

30/07/2011: WP 35, Blou Bulle 7

01/09/2012: WP 42, Blou Bulle 6

10/08/2013: WP 24, Blou Bulle 24

16/08/2014: WP 41, Blou Bulle 17

18/10/2014: WP 31, Blou Bulle 23*

18/09/2015: WP 29, Blou Bulle 14

08/04/2016: WP 30, Blou Bulle 16**

12/08/2017: WP 45, Blou Bulle 34

20/10/2018: WP 35, Blou Bulle 32***

13/07/2019: WP 20, Blou Bulle 5

Totaal punte: WP 347, Blou Bulle 190

Gemiddelde telling: WP 32, Blou Bulle 17

* Halfeindstryd

** Kwalifiserende wedstryd

*** Halfeindstryd


Meer oor:  Wp  |  Bulle  |  Nuweland  |  Curriebeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.