Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
WP kom spertyd na, maar Saru-oorname dreig

Terwyl die Westelike Provinsie Rugbyunie sy klubs probeer paai oor ’n skadevergoedingseis van etlike miljoene rand, veg sy uitvoerende raad en sy president, Zelt Marais, vir oorlewing om ’n oorname van sy sake deur SA Rugby af te weer.

Vasbeslote . . . WP se president, Zelt Marais. Foto: Gallo Images

Hoewel die WP net-net SA Rugby se sperdatum nagekom het om sekere dokumente aan die beheerliggaam beskikbaar te stel, is die moontlikheid steeds daar dat die WP “binne weke” onder administrasie geplaas kan word. Dit sal dan ook beteken dat die uitvoerende raad geskors word.

Die tweede skadevergoedingseis van Flyt Property Development en sy filiaal Dream World is die week op die WP beteken.

Terwyl die eerste eis sowat R145 miljoen beloop, is die tweede eis veel groter.

In die tweede dagvaarding eis Flyt skadevergoeding vir wat sy aandeel in die projek se inkomste sou wees, asook bestuurs- en ontwikkelingsgeld. Die twee skadevergoedingseise beloop meer as R550 miljoen, plus regskoste as hulle suksesvol is. Flyt en Dream World wil, as hulle suksesvol is, WP se eiendomme, wat as sekuriteit vir die ontwikkeling gesedeer is, oorneem. Verbande is al teen al 11 eiendomme geregistreer en is in Flyt se besit.

Terwyl die skadevergoedingseis oor die WP hang, is daar die week in die gange van Nuweland-stadion kommer uitgespreek oor die WP se kontantvloei. Daar is ook kommer dat die WP nie in staat sal wees om oor die volgende twee maande salarisse te kan betaal nie.

Intussen volhard Marais-hulle met binnegevegte wat daartoe gelei het dat Junaid Moerat, ’n lid van die uitvoerende komitee – hy is ook as waarnemende uitvoerende hoof van die sake­vleuel aangestel – tydelik geskors is nadat daar beweer is hy het inligting aan die media laat uitlek.

Moerat se tugverhoor is twee keer uitgestel en daar is geen vaste datum in die nabye toekoms dat dit sal plaasvind nie.

Quinton van Rooyen, nog ’n lid van WP se uitvoerende raad, is onder ’n wolk by Maties weg. Hy het as Maties se klubbestuurder gedien en het die aand voor ’n tugverhoor bedank.

Vrae word nou gevra oor of hy wel as lid van die uitvoerende komitee mag aanbly as hy nie ’n klub verteenwoordig nie.

Marais het in antwoord op Rapport se navrae die Van Rooyen-kwessie geïgnoreer. Hy wou ook nie uitbrei oor samesprekings met SA Rugby nie, maar het gesê WP sal “alles in sy vermoë doen” om homself teen die Flyt-eis te verdedig.

Ons is van plan om ons standpunt te verdedig teen enige eise wat van Flyt kan kom.

“Dit lyk asof daar ’n misverstand is. Dit is nou op rekord dat die unie besluit het om die eise van Dream World te verdedig. Ons beoog om in die hof te bewys dat hulle wetlik en wesenlik ongegrond is,” het Marais by navraag aan Rapport gesê.

“Ons is van plan om dieselfde te doen, oftewel om ons standpunt te verdedig teen enige eise wat van Flyt kan kom.

“Die unie sal ook pogings teenstaan van enige party om te voorkom dat die saak in die hooggeregshof in Kaapstad aangehoor word. Ons wil dit ook duidelik stel dat ons van plan is om alle deure oop te hou vir ’n vriendskaplike oplossing vir hierdie aangeleenthede.”

Intussen het die WP die week ’n brief aan sy klubs gestuur waarin hy oor die eis van Flyt en Dream World praat en homself weer op ’n tegniese punt verdedig.

In die dokument, wat van die WP se prokureurs Korbers kom, skryf die prokureurs dat Flyt se eis sal misluk omdat die leningsooreenkoms nie deur dieselfde maatskappy geteken is nie.

Volgens die dokument is die eis deur Dream World ingestel, terwyl die ooreenkoms met Flyt gesluit is. Dream World is wel ’n filiaal van Flyt.

WP glo ook dat die saak opgelos kan word deur die oorspronklike leningsbedrag van R112 miljoen met rente terug te betaal en terselfdertyd hul eiendomme terug te kry.

Meer oor:  Wpru  |  Sa Rugby  |  Oorname  |  Sperdatum
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.