Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
WP leen Carlu aan Heyneke se span

Carlu Sadie se loopbaan by die Westelike Provinsie is dalk verby nadat die Kaapse rugbyunie ingestem het om hom tot ná die Wêreldbeker-toernooi aan die Franse klubspan Stade Francais te leen.

Stade Francais word deur Heyneke Meyer, voormalige Springbok-afrigter, afgerig.

Carlu Sadie is deur die Westelike Provinsie aan die Franse klub Stade Francais geleen. Foto: Gallo Images

Sadie het verlede naweek nog vir die WP teen Griekwas gespeel, maar Wilco Louw se terugkeer uit die Springbok-groep beteken dat die Streeptruie darem sterk staan op vaskopstut vir Saterdag se Curriebeker-wedstryd teen die Vrystaat-Cheetahs in Bloemfontein.

Neethling Fouché, die vaskopstut op die plaasvervangersbank, het ook al ervaring op Superrugby-vlak opgedoen.

John Dobson, WP se afrigter, het dié skuif Woensdag bevestig.

Terwyl Sadie nog tot 2020 by die WP gekontrakteer is, gaan hulle hom waarskynlik aan ’n ander unie verkoop. Hy was vroeër vanjaar vir die Leeus ’n leenspeler in die Superreeks.

Damian Willemse kan hom ná afloop van die Curriebeker-reeks op ’n leenoorkoms by die Engelse klub Saracens aansluit. Foto: Gallo Images

Damian Willemse, wat vir Josh Stander op losskakel vervang in die span wat verlede naweek teen Griekwas verloor het, gaan dalk ná afloop van die CB-reeks as ’n leenspeler by Saracens in Engeland aansluit, voordat hy vir 2020 se Superreeks terugkeer.

Dan Kriel, wat weens ’n enkelbesering sy plek aan Rikus Pretorius afgestaan het vir die kragmeting in Bloemfontein, is glo op pad Goue Leeus toe. Stander keer die WP ook die rug toe om in Japan te gaan speel.

Ondanks Kriel se besering, meen Dobson dit was in elk geval hoogtyd om vir Pretorius, ’n voormalige skolester van Grey-kollege in Bloemfontein en ’n uitblinker vir die Junior Bokke, speelkans te gee.

Dan Kriel is glo in die Goue Leeus se visier. Foto: Gallo Images

Dobson wil graag ook sy diepte op senter uitbou met die oog op aanstaande jaar se Superreeks.

“Dis ’n balanseertoertjie. Met Damian de Allende wat ons verlaat, gaan ons diepte op senter vir aanstaande jaar se Superreeks uitgedun wees. Soms móét jy dapper wees met jou spankeuses en Rikus verdien dit. Ons speel ons hele veldtog nog met dieselfde senters,” sê Dobson.

“Rikus was skitterend op o.20-vlak. Hy’s groot, speel naby aan die voordeellyn en is baie fisiek. Ek is opgewonde oor sy insluiting.”

Dobson verwag dat die insluiting van Willemse en Pretorius die WP woema op die aanval sal gee. Willemse het verlede naweek teen Griekwas as plaasvervanger sy terugkeer van ’n ernstige kniebesering gemaak.

“Damian is ’n puik aanvallende losskakel. Jy kon die verskil sien wat hy teen Griekwas gemaak het toe ons hom opgestuur het. Ek verwag dat daar meer vloei in ons spel gaan wees,” sê Dobson.

Gegewe die permutasies vir die laaste ronde ligawedstryde – die WP baklei om by die agterdeur in te glip vir ’n plek in die halfeindronde – kan baie afhang van Willemse se vermoë om spel te skep.

Dillyn Leyds se terugkeer van die Bokke af sal die WP ook ’n bykomende aanvallende angel gee. Sy insluiting op heelagter het vir SP Marais vleuel toe gedwing, met Seabelo Senatla wat hom gevolglik op die plaasvervangersbank bevind.

Sowel Senatla as die regtervleuel, Sergeal Petersen, het las van seningontsteking en hulle sal Saterdag se 80 minute deel.

Op haker kom Scarra Ntubeni se terugkeer as ’n groot verligting nadat Chad Solomon die fort teen Griekwas moes hou.

Die WP is gewoond daaraan om die skrums te oorheers, maar Ntubeni en Louw se afwesigheid uit vir voorry het hulle verlede naweek kwesbaar gemaak. Vandeesweek is dit ’n gebied waar hulle weer vir oorheersing sal mik.

Westelike Provinsie: Dillyn Leyds, Sergeal Petersen, Ruhan Nel, Rikus Pretorius, SP Marais, Damian Willemse, Justin Phillips, Sikhumbuzo Notshe, JD Schickerling, Ernst van Rhyn, Chris van Zyl (k), Salmaan Moerat, Wilco Louw, Scarra Ntubeni, Corné Fourie. PLAASVERVANGERS: Chad Solomon, Kwenzo Blose, Neethling Fouché, Nama Xaba, Juarno Augustus, Paul de Wet, Jean-Luc du Plessis, Seabelo Senatla.

Curriebeker-bepalings

Curriebeker-puntelys

Curriebeker-uitslae

Meer oor:  Westelike Provinsie  |  Wp  |  Carlu Sadie  |  Stade Francais  |  Curriebeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.