Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
WP looi jong Bulle op Loftus Versfeld
JJ Kotze bars Saterdag oor die doellyn vir een van sy vier drieë vir die WP in ’n Curriebeker-wedstryd teen die Blou Bulle op Loftus.Foto: Gallo Images

’n Vierkuns aan drieë in sy debuut vir die haker JJ Kotze, saam met sy mede WP-voorspelers wat die jong kalwers van die Blou Bulle behoorlik opgefoeter het, het die Streeptruie Saterdag ’n sege met 48-24 oor die tuisspan op Loftus Versfeld verseker.

Die Kapenaars het sewe drieë gedruk, met die groen Bulle wat uiteindelik nie ’n antwoord gehad het op dit wat hul meer ervare teenstanders gebied het nie.

Sommer van die afskop af het die WP gewys hy is daar om rugby te speel sonder om enige respek aan die Bulle te toon. Soms was die WP egter ook skuldig daaraan dat hy nie respek aan die bal getoon het nie.

Want soos die span aangeval het in die eerste minute, het hy die bal soms wild rondgegooi en gedink die gate gaan sommer vanself kom.

Want soos die span aangeval het in die eerste minute, het hy die bal soms wild rondgegooi en gedink die gate gaan sommer vanself kom.

Een van dié wilde aangee is vroeg reeds deur Richard Kriel, heelagter van die Bulle, onderskep wat tot ’n weghol-drie vir sy vleuel Kefentse Mahlo gelei het.

Dié drie was egter die skop onder die alie wat die WP nodig gehad het om wakker te skrik.

Die besoekers het besef dat hulle dalk ’n bietjie beter met die bal in die hand moet speel en om seker te maak hulle verloor nie kop deur te fênsie te probeer wees nie.

Daar was in die eerste helfte by tye nog ’n paar keer waar die WP wild die bal rondgegooi het, maar hy het die losbandigheid stelselmatig afgeskud.

Die WP-vleuel en driedrukmasjien Sergeal Petersen.

Sihle Njezula, vleuel van die WP, se drie in die 11de minuut het sy span aan die gang gekry nadat vinnige hande agterlangs uiteindelik vrugte afgewerp het. Die heelagter, Sergeal Petersen, het met sy spoed die aanvoorwerk vir Njezula se vyfpunter gedoen.

Daarna het Kotze vier keer gaan druk, twee keer in die eerste helfte en twee keer ná die draaislag.

Slegs een van die drieë het nie van

’n rolmaalbeweging af gekom nie.

Dis juis met hul rolmaal en verwoestende skrum waarmee die Kapenaars ’n platform geskep het vir die agterspelers om te hardloop soos hulle wil. En daar was by tye sprankelende hardlooprugby agterlangs wat die Kaapse ondersteuners met groot glimlagte sou laat.

John Dobson, afrigter van die Streeptruie, kan ook heel tevrede wees met sy span se poging op die verdediging.

Vir die Bulle het die jonges heldhaftig vertoon, maar met 44 eerstekeuse-spelers wat nie in dié Curriebeker-stryd gespeel het nie, sou dit altyd ’n opdraande-stryd wees. Veral teen ’n Streeptrui-span met baie meer senior spelers in sy geledere.

’n Paar individuele spelers het goed gelyk, soos Kriel op heelagter, en Mahlo het ’n paar keer lekker met die bal onder die arm gehardloop.

Die pluspunt vir die jong Bulle is dat hulle met die eindfluitjie ’n vierde drie gedruk het vir ’n waardevolle bonuspunt.

Die pluspunt vir die jong Bulle is dat hulle met die eindfluitjie ’n vierde drie gedruk het vir ’n waardevolle bonuspunt.

Met die Bulle se grofgeskut wat binnekort terugkeer, kan dié bonuspunt waardevol wees gegewe die lang Curriebeker-reeks. Maar met die senior span wat waarskynlik eers sal moet self-isoleer met hul terugkeer uit Italië, sal dié groentjies straks Vrydag nog die fort moet hou teen die Pumas, wat stert in die lug is ná hul sege oor die Leeus.

Die WP is juis Woensdag aan die beurt op Ellispark teen die Leeus, met Dobson wat sal hoop sy span kan nog so ’n vertoning soos Saterdag s’n lewer om met 10 punte uit Gauteng terug te keer Kaap toe.

Puntemakers: Blou Bulle 24 (12): Drieë: Kefentse Mahlo, Richard Kriel, Dewald Donald, Jaco Labuschagne. Doelskoppe: Jandre Burger (2). Westelike Provinsie 48 (28): Drieë: JJ Kotze (4), Sihle Njezula, Evan Roos, Dan du Plessis. Doelskoppe: Abner van Reenen (4), Tim Swiel. Strafdoel: Swiel.

Meer oor:  Sergeal Petersen  |  Pretoria  |  Loftus  |  Rugby  |  Curriebeker  |  Blou Bulle  |  Streeptruie  |  Wp
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.