Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Kontrakkrisis
WP ly vanjaar verlies van R30 miljoen

WP Rugby se geldkrisis raak al hoe groter met ’n verlies van R30 miljoen wat vir vanjaar voorspel word.

Omdat die geldsake op ’n ramp afstuur, veroorsaak dit dat talle van die WP se Springbokke en ander senior spelers onseker is oor hul toekoms in die Kaap.

Die voorsiene verlies van R30 miljoen sluit nie die agterstallige rente op ’n Remgro-lening in nie. Dit beloop na wat verneem word reeds R53 miljoen.

WELLINGTON, NEW ZEALAND - MARCH 23: Siya Kolisi of
Siya Kolisi is een van verskeie Springbokke wie se kontrakte met die WP nie hernu is nie.Foto: Getty Images

Senior spelers, onder wie die Springbokkaptein, Siya Kolisi, en sy Bok-spanmaats Pieter-Steph du Toit, Steven Kitshoff, Frans Malherbe en Bongi Mbonambi, se kontrakte is nie verleng nie.

Die spelers het almal mondelinge ooreenkomste met die unie, maar geen geskrewe kontrak nie.

Die sluit van spelerskontrakte en die aangaan van ander uitgawes is glo verlede week op WP Rugby, die sakevleuel van die unie, se direksievergadering op die spits gedryf.

Volgens Rapport se inligting is drie onafhanklike direkteure – André van der Veen, Mackie Isaacs en Raymond van Niekerk – onlangs nuut in die direksie gekoöpteer.

Hulle het op die vergadering gewaarsku teen “roekelose bestuur” en uitgewys dat dit ’n oortreding van die Maatskappywet is om geld wild en wakker te bestee as die maatskappy reeds ’n groot verlies ly.

Dit is glo die rede waarom die proses om spelerskontrakte toe te ken, gestaak is.

Die direksie eis nou dat die WP Rugbyunie die spelersbegroting waarborg voordat kontrakte met spelers beklink word.

Rapport se inligting is dat die unie se uitvoerende komitee nie die waarborgbrief wil verskaf nie, met die gevolg dat alle kontraktering nou gestaak is.

CAPE TOWN, SOUTH AFRICA - DECEMBER 14: Western Pro
'Een dag is dit Paul Zacks (regs) en dan is dit Zelt Marais (links) wat die besluite neem,' sê 'n WP-rolspeler. Foto: Gallo Images

Twee ingeligtes in die binnekringe van WP Rugby het die afgelope week aan Rapport gesê die unie is verlam.

“Dit is ’n chaos,” het een bron gesê.

“Ons weet nie wie die baas is nie. Een dag is dit Paul (Zacks, die uitvoerende hoof), en dan is dit Zelt (Marais, die WP-president) wat die besluite neem. Dan hoor ons die direksie neem ’n besluit en dan is dit PT (Paul Treu) wat besluite neem. Dit kan nie so voortgaan nie.”

Verskeie spelersagente het aan Rapport bevestig die WP het hulle ingelig dat daar nie tans geld is om hul mondelinge aanbiedinge aan spelers na te kom nie.

Intussen het twee ander unies bevestig dat WP-spelers met hulle in verbinding was oor moontlike kontrakte daar.

Die WP het by navraag erken hulle is onder “groot druk”.

“Alle rugby-franchises in Suid-Afrika word deur finansiële moeilikheid in die gesig gestaar, nie net WP Rugby nie,” het ’n woordvoerder gesê.

“Daar is verskeie faktore wat ons winsgewendheid beïnvloed het, soos die afwesigheid van ’n toets op Nuweland vanjaar. Dit het ’n negatiewe impak op ons losies, seisoenkaartjies en advertensieverkope gehad. Daarby kom die uitdaging van groter koste vir die instandhouding van die stadion, spelers se salarisse, kleiner TV-inkomste en die swak ekonomie.”

Die woordvoerder sê ook WP het geen aanbiedinge aan spelers of agente nie nagekom nie.

“Ons was die eerste franchise wat ons Superrugby-hoofafrigter vir 2020 aangestel het, om so te verseker dat ons ons hoëprofiel-spelerskorps behou, en ons was suksesvol.

“Maar Saru se nuwe kontrakteringsmodel het tot ’n vertraging in die kontrakteringsproses gelei.”

Volgens die woordvoerder werk WP Rugby se direksie en die WP Rugby-unie se uitvoerende komitee goed saam “tot voordeel van WP Rugby”.

Meer oor:  Wp Rugby  |  Wp  |  Verlies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.