Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Die X-faktor waaroor ons beskik, het deur-gekom.’
WP maak maalvleis van Pumas

Die Westelike Provinsie se bonuspuntsege oor die Pumas Vrydag op Nuweland het die span hope selfvertroue gegee vir wat eerskomende Vrydag in Kimberley op die span wag.

Die Streeptruie het die besoekers van Nelspruit van hul voete af gehardloop en die tweestryd met 45-14 beklink, met die tuisspan wat ’n paar skouspelagtige drieë gedruk het.

Siya Kolisi word gestuit in sy poging om die Puma-doellyn oor te steek. Foto: gallo

Nadat John Dobson, afrigter van die WP, die afgelope week gesê het sy span het ’n keerpunt bereik in hul Curriebeker-seisoen, het dit vir ’n wyle na die teenoorgestelde gelyk.

In die eerste 15 minute het die Streeptruie gesukkel om voor ’n betreklik klein tuisskare aan die gang te kom en dit was eerder die Pumas wat gelyk het asof hulle gekom het om die WP se titelhoop nek om te draai.

Maar in die volgende 15 minute van die wedstryd het die WP-spelers hul afrigter se vertroue in hulle gestand gedoen toe hulle die Pumas letterlik van hul voete af gehardloop het om die stryd te beklink.

“Ons was baie beter in die kontaksituasies,” het Dobson agterna gesê.

“Daai X-faktor waaroor ons beskik, het ook deurgekom. Die manne het egter ’n paar kanse op drieë verspeel.”

Dobson het reeds vroeg in die tweede helfte sy plaasvervangers opgestuur om hulle só ’n bietjie meer speelkans as gewoonlik te gee.

“Ons móés daardie ouens meer speelkans gee. As ons ’n tuishalfeind wil aanbied, moet ons in Kimberley en Bloemfontein wen.

“Een besering kan al ons planne beduiwel en ons moes daardie besluit vandag (Vrydag) neem.

“En ek het al ’n paar rekords daar in Kimberley gebreek,” het Dobson met ’n lag gesê.

Chris van Zyl, kaptein van die WP, het sy afrigter se grapperige bekentenis beaam en gesê die span het nie goeie herinneringe in Kimberley nie.

“Ek en Dobbo (Dobson) het al ’n paar slegte ervarings daar gehad,” het Van Zyl gesê.

“As ons hulle daar speel, het hulle altyd daardie geloof dat hulle ons kan klop. Hulle het nie dieselfde geloof as hulle hier kom speel nie. Dit lyk ook of hulle dink ons hou nie daarvan om daar speel nie en dit versterk net hul geloof dat hulle ons daar kan klop.

“Vanjaar het die Griekwas ook ’n goeie speelstyl en baie dinge werk vir hulle.

“Dit gaan ’n groot uitdaging vir ons wees. Wat in ons guns tel, is dat die ouens weet ons spel teen die Pumas was ver van perfek gewees. Daar is dus nog baie wat ons moet reg kry.”

Jimmy Stonehouse, afrigter van die Pumas, was uiteraard teleurgesteld oor die uitslag nadat sy span so goed teen die WP begin het.

Hy was egter in sy noppies met die veggees wat sy span gewys het.

Siya Kolisi, Springbok-kaptein, was toe vir 48 minute op die veld om hom gerat te kry vir wat op hom by die Bokke wag.

  • Punte:

WP 45 (31): Drieë: Sergeal Petersen, Sikhumbuzo Notshe, Seabelo Senatla (2), Justin Phillips, Ernst van Rhyn, Ruhan Nel. Doelskoppe: Josh Stander (3), Jean-Luc du Plessis (2).
Pumas 14 (7): Drieë: Alwyno Visagie, Chris Smith. Doelskoppe: Chris Smith (2).

Meer oor:  Westelike Provinsie  |  Pumas  |  Nuweland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.