Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
WP maak rug styf oor Leyds se Japan-plan

Die Springbok-vleuel Dillyn Leyds is hard in die sak geruk ná ’n besluit deur die Westelike Provinsie om ’n stokkie te steek voor sy planne om in Japan te gaan speel.

Dillyn Leyds wou ’n Japanse draai gaan maak het nadat hy in onguns verval het by die Springbokke, maar die Westelike Provinsie het ’n stokkie daar voor gesteek. Foto: Gallo Images

Leyds se agent, Hilton Houghton, is briesend dat die Kaapse unie geweier het om Leyds uit die Curriebeker-reeks vry te stel om hom by die Canon Eagles aan te sluit. Die Eagles word deur die voormalige Bok-breier Allister Coetzee afgerig.

Leyds sou ná afloop van die Japanse seisoen vir die Superreeks terugkeer.

“Ek is nie meer geskok oor wat by die WP gebeur wanneer dit by die welstand van spelers kom nie. Dis waarom soveel jong spelers die WP vir groener weivelde verlaat,” sê Houghton.

Hy wys daarop dat die WP vir Raymond Rhule ná minder as ’n jaar se diens in die Superreeks vrygestel het om vir Grenoble in Frankryk te gaan speel.

“Dillyn is ’n lojale dienaar van die WP, wat ’n kans in Japan verdien,” sê Houghton.

Hy voer aan dat Leyds, wat tot 2019 ’n WP-kontrak het, bereid sou wees om sy kontrak tot 2021 te verleng indien daar ingestem is dat hy dit kan doen op voorwaardes wat hom toelaat om buite die Superreeks in Japan te kan speel.

Die WP het by monde van Paul Zacks, uitvoerende hoof, egter sterk teruggekap.

Volgens Zacks het Houghton hom om 15:00 kom sien en gevra dat Leyds dieselfde dag nog vrygestel word.

“Dis nie hoe ons by die WP werk nie,” sê Zacks.

Paul Zacks, Die WP se uitvoerende hoof, het sy rug styf gemaak vir ’n versoek deur Dillyn Leyds om die Curriebeker-reeks te systap sodat hy vir die Canon Eagles in Japan kan speel. Foto: Gallo Images

“Ons werk op ’n konsultasiegrondslag met die hoofafrigters en die direkteur van rugby. Die afrigters word aan die hand van hul prestasie gemeet en dis my werk om hulle als moontlik te gee om welslae te behaal. Ons kan afrigters nie verantwoordelik hou as ons hul beste spelers vrystel nie.

“Dillyn is ’n senior leier in ons groep en sleutelspeler vir die CB-reeks. Ons wil die Curriebeker (CB) in die Kaap hou.”

Zacks verwys na ’n soortgelyke versoek verlede jaar deur die Skotse senter Huw Jones, wat die WP voor die CB-reeks wou verlaat om vroeër by die Glasgow Warriors te kan aansluit.

“Sou ons steeds die CB-reeks gewen het as ons vir Huw vrygestel het? Hy het my ná die eindstryd kom bedank dat ons geweier het om hom vry te stel,” sê Jones.

Zacks voer ook aan geen besonderhede is gebied oor ’n moontlike verlenging van Leyds se kontrak nie, indien dit die Japanse opsie sou insluit.

“Vir ons om dít te oorweeg moet daar na al die feite gekyk word, soos sy verwagting rakende vergoeding, die tydperk, voorstelle vir aansporingsbonusse, ’n klousule vir vroeë vrystelling, oordragfooie en dies meer. Hierdie punte is nie genoem nie en niks hieroor is bespreek nie,” sê hy.

Zacks voeg by Houghton het hom kom sien terwyl Gert Smal, die WP se direkteur van rugby, en Robbie Fleck, die Stormers se breier, oorsee was.

Houghton, wat een van die invloedrykste agente in Suid-Afrika is en talle van die WP se spelers verteenwoordig, is egter woedend oor hoe Leyds behandel is, gegewe dat hy al etlike seisoene diens doen in die Kaap.

Leyds kon miljoene rande meer verdien het indien die WP tot ’n skuif Japan toe ingestem het.

“Moenie verbaas wees as my kliënt ná 2019 skuif nie. Dis tyd dat die franchises verantwoordelikheid neem vir spelers wat hulle verlaat, eerder as om agente daarvoor kwalik te neem,” sê hy.

Meer oor:  Curriebeker-Reek  |  Dillyn Leyds  |  Wp  |  Japan  |  Paul Zacks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.