Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
WP: Magstryd vervreem spelers én ondersteuners

Vir die afgelope paar weke is die grootste gesprekspunt in Kaapse rugbykringe die magstryd tussen administrateurs en hoe die voormalige Stormers-hulpafrigter Paul Treu in daardie prentjie inpas.

Nou vir die goeie nuus (afhangend van jou perspektief, natuurlik): Die Stormers kan die sterkste span in twee dekades in die veld stoot.

Zelt Marais, president van die WP Rugbyunie. Foto: Gallo Images

Die span van 2010 was ’n baie goeie een, maar het nie die vaste voorspelers gehad om daardie jaar met die Bulle te kan saamgesels nie.

Nou is daar bielies soos Frans Malherbe, Wilco Louw, Steven Kitshoff, Eben Etzebeth, Pieter-Steph du Toit, Siya Kolisi en JD Schickerling tot hul beskikking.

Dit sal my inderdaad verbaas as die Stormers, met ekonomiese realiteite soos dit tans in rugby daarna uitsien, ooit weer só ’n sterk span sal hê.

Speel dié span na sy potensiaal – sonder dat hy deur beserings gekniehalter word – behoort hy onder die aanspraakmakers vir vanjaar se titel te tel.

Terselfdertyd het die oomblik van waarheid ook nou aangebreek in terme van hoe woelinge agter die skerms die span se kanse op sukses kan laat ontspoor.

Die gebeure voor en ná verlede jaar se verkiesing, wat die doen en late van ampsdraers in die WP betref, boesem ongelukkig geen vertroue in nie.

Die WP Rugbyunie se nuwe president, Zelt Marais, het sy termyn begin sonder steun in die “kleedkamer”. Voor die verkiesing was hy ’n voorstander van salarisbesnoeiings – nie juis ’n manier om goeie verhoudinge met personeel te vestig nie.

Daar is ook sterk sprake dat hy ’n “uitvoerende president” wil wees, wat as’t ware sal beteken dat die WP se uitvoerende hoof, Paul Zacks, irrelevant raak.

In die rook van die oorlog het gerugte só woes begin loop oor wie vorentoe die rolle van direkteur van rugby en Stormers-afrigter gaan vul, dat spelers ook paniekerig begin raak het.

Nou is die volgende vraag wat die impak van al dié woelinge op Kapenaars se entoesiasme vir hul span gaan wees. Boonop is dit ’n Wêreldbeker-jaar, waarin dit uiteraard gaan lol om seisoenkaartjies en losies te verkoop, vanweë die min tuistoetse.

Daar is vanjaar byvoorbeeld geen Junie-reeks nie en ook net ’n verkorte Rugbykampioenskap.

Dít gaan elke unie finansieel nog verder op die agtervoet plaas.

Jan en Alleman soek goeie nuus en sterk leierskap eerder as ’n spul rugbybase wat baklei oor wie die afrigter aanstel.

Daardie leierskap, eerder as die strewe vir mag, behoort by Marais te begin. Die amp van president bly bitter belangrik omdat die betrokke persoon as’t ware ’n kultuur vir die unie behoort te kweek. In dié tydstip is daardie kultuur ’n negatiewe een.

Inteendeel, die rugbypubliek dink al hoe meer dat die WP se base ’n spul paloekas is. En daar is goeies onder die Kaapse rugbybase.

Marais gaan in sy termyn die saadjies vir stabiliteit en beter openbare betrekkinge moet saai.

Indien hy hom oordadig met die bestuur van die sakevleuel wil bemoei of dit selfs wil sluit, gaan hy hom teen die politieke ekonomie van Suid-Afrikaanse rugby vasloop.

Die welstand van ’n rugbyunie is uiteindelik afhanklik van spelers, ondersteuners, dagpersoneel en borge. Om die wense van daardie partye te minag, of om twyfel by hulle te saai, is ’n resep om teen ’n snelle tempo agteruit te boer. Marais moet dít besef.

Die nuwe president verdien wel ’n regverdige kans, maar moet leer uit sy ervaring van die vroeë dae van sy presidentskap.

In ’n ideale wêreld behoort niemand te praat oor wie die septer in ’n unie swaai en die mag het om besluite te neem nie. Die spelers móét altyd die spilpunt wees.

Meer oor:  Zelt Marais  |  Stormers  |  Wp Rugbyunie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.