Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
WP neem eindelik standpunt in

Of dade harder as woorde gaan spreek, sal gesien moet word, maar die Westelike Provinsie Rugbyunie (WPRU) het Vrydag uiteindelik in die openbaar standpunt ingeneem teen die “mishandeling” van plaaslike skeidsregters.

Daarmee het hy hom by die WP se Skeidsregtersvereniging geskaar nadat dié liggaam aangedui het dat hy weens skeltaal teen en die intimidasie en aanranding van sy blasers nie wedstrydbeamptes vir WP-klubwedstryde beskikbaar gaan stel nie. Die impak is reeds Woensdag gevoel en dié naweek se wedstryde is ook uitgestel.

Joey Klaaste-Salmans, voorsitter van die WP se Skeidsregtersvereniging, het vroeër vandeesweek lig gewerp op die moeilike omstandighede waaronder beamptes by klubrugby werk, wat hul genoop het om wedstryde te boikot. Foto: Argief

Die WPRU en die Skeidsregtersvereniging het Donderdag ’n noodvergadering oor dié kwessie gehou. Vrydag het die WPRU dié verklaring uitgestuur:

“Die WPRU steun die besluit van die WP Skeidsregtersvereniging om nie wedstrydbeamptes vir hierdie naweek se klubwedstryde aan te stel nie. Ná ’n vergadering Donderdag is alle klubwedstryde wat vir hierdie naweek beplan was, uitgestel. ’n Memorandum van verstandhouding is onderteken, wat al die bekommernisse aanspreek.

“Die WPRU het nog nooit die mishandeling van skeidsregters goedgekeur nie en sal daadwerklike aksie neem om vorentoe sulke voorvalle aan te spreek.”

Die WPRU voeg by dat enige klub of individu wat hom aan die mishandeling van skeidsregters skuldig maak, tugoptrede op die lyf sal loop. Een van die maatreëls kan wees om skeidsregters se dienste te weerhou van wedstryde waarin skuldige klubs speel.

“Rugby kan nie sonder skeidsregters gespeel word nie en dis uiters belangrik dat daar op elke vlak van die spel respek aan hulle betoon word.”

Die Skeidsregtersvereniging het sy drastiese stap gedoen nadat daar die afgelope paar maande ’n toename in voorvalle van die mishandeling van skeidsregters was.

Dié kwessie is vir jare al ’n probleem in klubrugby in die Kaap en ook elders in die land.

In onlangse voorvalle is ’n ervare skeidsregter met ’n bottel in die gesig gegooi en ’n jong blaser deur die kaptein van ’n span rondgestamp.

Die Skeidsregtersverening het ook beweer dat die WPRU nie betalings aan wedstrydbeamptes gemaak het nie.

Meer oor:  Blasers  |  Westelike Provinsie  |  Wpru  |  Skeidsregters  |  Wp
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.