Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
WP op knieë voor stadion-skuif
Die kroonjuweel in die WP Rugbyunie se eiendomsportefeulje, Nuweland, is nou in Investec se hande. Foto: Gallo Images

Die Westelike Provinsie Rugbyunie (WPRU) kon teen die tyd wat hy Investec se aanbod vir die Nuweland-stadion aanvaar het nie eens meer sy spelers van gebottelde water by hul oefengeriewe voorsien nie.

Terselfdertyd het die finansiële krisis nie verhoed dat ’n pos van “uitvoerende assistent wat aan die president van die unie (Zelt Marais) verslag doen” geskep word nie.

Personeel by die WP was ontstig toe die man wat dié pos nou beklee, Ruben Machelm, uit die bloute langs hulle begin werk het en het die kwessie by hul vakbond, Sport Employees Unite (SEU), aangemeld.

Piet Heymans, uitvoerende hoof van die vakbond Sport Employees Unite, is op die oorlogspad met die WP Rugbyunie.

Piet Heymans, uitvoerende hoof van SEU, het Dinsdag by navraag aan Netwerk24 bevestig dat hy aan Marais en die WP se uitvoerende hoof, Paul Zacks, ’n skrywe gerig het.

“Etlike personeellede is ongelukkig daaroor. Dis teenstrydig met die WPRU se beleid en prosedures, wat bepaal dat vakante of nuwe poste eers intern geadverteer moet word en dat onderhoude dan gevoer word, ongeag of die kandidaat intern of ekstern is,” het Heymans gesê.

“Goeie korporatiewe bestuur is baie belangrik en as die WP se beleid en prosesse nie gehandhaaf word nie, is dit duidelik by die agterdeur uit.

“My inligting was ook dat daar weens die finansiële krisis ’n moratorium op nuwe aanstellings was. Die WP moet sê deur wie en wanneer dit opgeskort is.”

Heymans het ook inligting ontvang dat die WP nie geld aan derde partye oorbetaal, wat as aftrekkings op personeel se salarisstrokies aangedui word nie. Dit sluit SEU se lidmaatskapgeld in.

“Die WP gebruik personeel se geld om kop bo water te hou. Dit is onaanvaarbaar,” het Heymans gesê.

Die WP gebruik personeel se geld om kop bo water te hou. Dit is onaanvaarbaar.
Piet Heymans

Krediteure van die WP is verlede week ook skriftelik om verskoning gevra oor die unie met sy betalings sloer. Daar is toe gesê dat die WP “hoop” om die kwessie vinnig op te los.

Die oplossing vir die geldnood was uiteindelik die uitverhuring – glo vir 99 jaar – van die kroonjuweel in die Kaapse unie se eiendomsportefeulje: die Nuweland-stadion. Die transaksie is nog nie deur die WP of Investec aangekondig nie.

Volgens inligting wat die rondte doen in die Kaapse rugbygemeenskap, behels die transaksie ’n onmiddellike bedrag van R110 miljoen, 5% van die wins wat deur Investec gemaak word uit ’n ontwikkeling wat by die stadion gedoen gaan word en 3,5% uit die “herverkoop van eenhede”.

Die inkomste van R110 miljoen sal gebruik word om die WP se skuld te delg. Dit sluit in ’n lening van nagenoeg R44 miljoen, wat aan die einde van 2016 by die beleggingsmaatskappy Remgro aangegaan is. Dié geld is teen die prima uitleenkoers aan WP geleen en die skuld beloop nou al meer as R50 miljoen.

Die WP sal dus vir eers sy kop bo water hou, maar sal op korttermyn afhanklik van goeie vertonings deur die Stormers (wat tot ’n groter hekinkomste sal lei) wees om hom uit troebel finansiële water te hou.

John Dobson

Vir die afrigter, John Dobson, is daar min beweegruimte. Terwyl die WP daarin geslaag het om aan die meeste van sy top-Springbokke vas te klou, was daar nog geen nuus oor aanwinste nie.

Dit beteken Corné Fourie, ’n loskopstut van die Goue Leeus, is die enigste senior speler in twee seisoene om van buite af ’n kontrak met die WP te sluit.

* ’n Versoek vir kommentaar van Zacks en Marais is reeds Dinsdagmiddag aan die WP gestuur, maar geen reaksie is ontvang nie.

Meer oor:  John Dobson  |  Piet Heymans  |  Kaapstad  |  Nuweland  |  Rugby  |  Investec  |  Wpru  |  Wp  |  Geldkrisis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.