Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
WP-rugby kan in yslike skuld-sinkgat beland

Die Westelike Provinsie Rugbyunie (WPRU) gaan hom in ’n skuldmoeras van meer as R100 miljoen bevind indien hy nie die knoop kan deurhak met die verkoop van die Nuweland-stadion aan Investec nie.

Zelt Marais, president van die WP Rugbyunie. Foto: Argief

Onderhandelinge tussen dié partye het vroeër vandeesweek ’n dooiepunt bereik nadat die WPRU glo ter elfder ure weer oor die bepalings van die oorspronklike ooreenkoms wou onderhandel. Daar is reeds in November verlede jaar op hoofpunte ooreengekom oor ’n transaksie waarvolgens die WPRU R110 miljoen en ook ’n inkomstestroom sou kry uit die eiendomsontwikkeling wat Investec by Nuweland wil onderneem, in ruil vir die stadion. Die Stormers en Westelike Provinsie sou dan van aanstaande jaar af in die Kaapstad-stadion speel.

Maar ’n bom het vroeër vandeesweek gebars toe ’n lid van die WPRU se uitvoerende raad, Kevin Kiewitz, uit sy amp bedank het. Ofskoon hy nie aan die nuusmedia ’n rede wou verskaf nie, gons dit in die rugbygemeenskap dat hy omgekrap was oor die unie wat nie wou deurdruk met die Investec-transaksie nie.

Die WPRU sal teen die einde van Junie nog nagenoeg R58 miljoen aan die beleggingsmaatskappy Remgro skuld. Om sake te vererger het Investec glo ook al sowat R55 miljoen aan die WPRU betaal. ’n Tweede betaling van R55 miljoen was glo geoormerk om die Remgro-lening te delg.

’n Woordvoerder van Investec het Woensdag aan Netwerk24 gesê dat onderhandelinge met die WPRU ’n dooiepunt bereik het. Teen Vrydag was ’n oplossing nog nie in sig nie.

“Die situasie bly onveranderd,” het die woordvoerder gesê.

Indien dit nie weer op koers kom nie, sal die WP se skuld nagenoeg R113 miljoen beloop, met Remgro wat straks by magte sal wees om op die unie se eiendomsbates beslag te lê.

Of Investec die hoofpunte van sy oorspronklike ooreenkoms met die WPRU as bindend beskou, is ’n vraag wat nog nie beantwoord is nie, maar ’n kwessie wat straks nog olie op die vuur kan wees. Investec wou Vrydag ook nie bevestig of hy al ’n betaling aan die WPRU gemaak het nie, maar dit is deur etlike bronne aan Netwerk24 bevestig.

Zelt Marais, die WPRU se president, het gesê dat hy vanweë streng vertroulikheidsklousules nie kommentaar kan lewer nie.

Kiewitz is Vrydag weer deur Netwerk24 om kommentaar genader, maar het gesê dat die situasie nog “te wispelturig” is om keel te kan skoonmaak.

Volgens ingeligte bronne het hy gevoel dat die WPRU verkeerd was om opnuut oor die transaksie te wil onderhandel nadat daar lankal op die kommersiële bepalings ooreengekom is.

Hy het dit glo ook as onverantwoordelik beskou en dat daar nie ’n mandaat van die hoofraad (die klubs wat Nuweland gesamentlik besit) was om weer oor die transaksie te onderhandel nie.

André van der Veen, direkteur van die WP Rugbyunie se sakevleuel. Foto: Verskaf

Marais het klubs Dinsdag skriftelik ingelig dat Kiewitz as uitvoerende raadslid en as direkteur van die WPRU se sakevleuel bedank het. Marais en Kiewitz dien saam met André van der Veen en Raymond van Niekerk in ’n tussentydse bestuurskomitee tot tyd en wyl die WPRU ’n nuwe uitvoerende hoof aanstel.

Van der Veen, ook ’n direkteur van die sakevleuel, het egter Woensdag gesê dat Kiewitz aanbly as ’n direkteur van die sakevleuel en lid van die bestuurskomitee. Hy het bygevoeg dat die beroepspanne se skuif Kaapstad-stadion toe in marmer gegiet is nadat ’n bindende ooreenkoms met die Kaapstadse metro aangegaan is.

Spelers se kontrakte word ook nie deur die Investec-kwessie geraak nie.

Nietemin hou die unie 100% van die aandele in die sakevleuel, wat onder groot finansiële druk verkeer. Die unie verskaf ook sekuriteit vir die spelers se kontrakte.

Borge sal die kwessie ook met valkoë dophou indien dit opnuut onstabiliteit in die unie tot gevolg het nadat dit vir ’n ruk begin lyk het asof die WPRU oplaas in kalm water begin vaar het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.