Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
WP-baas se ‘hartaanval’ nes Swys se stres

Paul Zacks, uitvoerende hoof van WP Rugby, is die derde hoë amptenaar in Suid-Afrikaanse rugby om weens stres mediese behandeling te ontvang.

Paul Zacks

Zacks is weens ’n senuweetoestand ná die Stormers se Superwedstryd verlede Saterdag teen die Bulle op Nuweland in ’n Kaapse hospitaal opgeneem. Daar is aanvanklik vermoed dat hy ’n hartaanval gekry het aangesien hy onder meer met sy asemhaling gesukkel het. Hy is op aanbeveling van die Stormers se medici vanaf Nuweland na ’n hospitaal gehaas.

’n Elektrokardiogram (EKG) en ander toetse het later bevind dat hy erge griep onder lede het en “dat sy lyf die spreekwoordelike muur getref het”.

Hy is uit die hospitaal ontslaan, maar is aanbeveel om vir ’n paar dae te rus en tuis te bly.

Zacks het die afgelope drie jaar deur ’n bitter moeilike tyd gegaan. Hy en Zelt Marais, die WP-unie se president, was veral in ’n hewige magstryd gewikkel. Marais wil volgens ingeligtes hê die amateurkant moet totale beheer vat, terwyl Zacks en die sakevleuel moes walgooi vir al wat hulle werd is.

Swys de Bruin

Zacks moet ook voortdurend oplossings vir binnegevegte in WP-rugby help vind waarby bekende figure soos Gert Smal, Paul Feeney, Paul Treu en Robbie Fleck betrokke is.

Sy franchise se finansiële posisie is weens miljoene rande se skuld aan Remgro beroerd, terwyl die Stormers se wisselvallige vertoningslys vanjaar verdere druk op Zacks plaas.

“Lang tydperke van stres rig groot skade aan ’n mens se lyf aan. Paul se immuunstelsel het eindelik ingegee. Die afgelope drie jaar was uiters stresvol vir hom,” het iemand na aan Zacks aan Rapport gesê.

Swys de Bruin, die Leeus se hoofafrigter, en Xander Janse van Rensburg van die Bulle is nog twee hoë amptenare wat vroeër vanjaar deur druk platgeduik is.

Janse van Rensburg het skielik voor die aanvang van die Superreeks as hoëprestasiebestuurder van die Bulle bedank. Hy is kort daarna in ’n hospitaal in Pretoria opgeneem.

Xander Janse van Rensburg

Die poppe dans sedertdien by Loftus Vers­feld nadat die Blou Bulle Maatskappy (BBM) ’n forensiese ondersoek van stapel gestuur het na beweerde bedrog en finansiële ongerymdhede deur Janse van Rensburg.

De Bruin het onverwags aan die vooraand van die Leeus se Superwedstryd teen die Chiefs uit Nieu-Seeland na Suid-Afrika teruggekeer. Hy het met die Leeus se steun professionele hulp vir sy senuweetoestand ontvang en het onder meer die afgelope tyd metodes aangeleer om druk te verwerk.

De Bruin sal Maandag weer na die oefenveld terugkeer wanneer sy span met voorbereidings vir Saterdag se Superkragmeting met die Waratahs begin. Hy sê in ’n onderhoud hy is weer perdfris en reg om die leisels as hoofafrigter op te neem.

Die Leeu-afrigter noem ook in die onderhoud dat hy steeds in sy rol by die Springbokke sal aanbly.

Meer oor:  Stres  |  Swys De Bruin  |  Paul Zacks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.