Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
WP Rugbyunie word wéér gedagvaar

Die besluit van die Westelike Provinsie Rugbyunie (WPRU) om sy leningsooreenkoms met Dream World Investments 401 ongeldig te verklaar, het vir nóg ’n onaangename kinkel in die kabel van dié sage gesorg.

Nou dagvaar Ashley Francis, die man wat die WPRU en Dream World aan mekaar voorgestel het, die unie.

Francis, wat die eis in sy hoedanigheid as ’n trustee van die Safricang Property Trust bring, voer in hofstukke aan dat hy op 2% se kommissie geregtig is van die sowat R110,7 miljoen wat die WPRU by Dream World geleen het. Dit is meer as R2,2 miljoen.

Die WPRU is nie van plan om die geld op te dok nie.

“Die eis gaan beslis teengestaan word en die nodige kennisgewings binnekort uitgereik word,” het Zelt Marais, die WPRU se president, deur ’n woordvoerder aan Netwerk24 gesê.

Zelt Marais, president van die WP Rugbyunie.Foto: Gallo Images

In die hofstukke word aangevoer Francis en Marais het rondom 19 Junie 2020 ’n mondelinge ooreenkoms aangegaan waarvolgens Francis deur ’n finansierder geld sou vind waarmee die WPRU sy skuld aan Remgro en Investec kon afbetaal.

Die WPRU was toe onder groot druk om sowat R57,7 miljoen te vind om Remgro te betaal, want dié beleggingsmaatskappy het toe die reg gehad om die Nuweland-stadion op te veil as hy nie teen einde Junie 2020 terugbetaal sou word nie. Die skuld aan Investec het byna R53 miljoen beloop.

Johann Rupert, Remgro se voorsitter, het egter kort voor die spertyd aan die WPRU uitstel gegee om ’n noulettendheidsondersoek te kan doen. Dit is van die hand gewys.

Tans dagvaar Dream World die WPRU vir sowat R145 miljoen – die som van die leenbedrag en ’n aanvang- en ontwikkelingsfooi.

Dream World is ’n sustermaatskappy van Flyt Property Investment, wat as deel van daardie transaksie in ’n vennootskap met die WPRU eiendomsontwikkelinge by die Nuweland-stadion en Brookside sou doen.

’n Veelbesproke aspek van daardie transaksie is dat Nuweland vir die prys van die leenbedrag aan die ontwikkelingsmaatskappy verkoop sou word. Die WPRU voer nou aan dat die stadion-perseel tot só ’n mate onderwaardeer is dat die transaksie teen openbare beleid indruis en daarom ongeldig is. Hy self het Nuweland onafhanklik laat waardeer teen tussen R377 miljoen en R390 miljoen.

Die unie voer ook aan dat die bedoeling was vir sowel die leningsooreenkoms en eiendomsontwikkelings om transaksies met Flyt te wees. Die feit dat Dream World betrek is, maak die ooreenkomste volgens die WPRU ongedaan.

Flyt eis honderde miljoene rand vir die inkomste wat hy meen hy gaan verloor weens die ontwikkelings wat nie gaan plaasvind nie.

Die transaksies met Dream World en Flyt het gevolg nadat ’n transaksie met Investec Property vir ’n ontwikkeling by Nuweland nie deurgevoer is nie. Daar was reeds op die hoofbepalings van ’n ooreenkoms met Investec ooreengekom en daar was groot onmin in die WPRU se raadsale oor die besluit om hom op die nippertjie die rug toe te keer.

Meer oor:  Investec  |  Wpru  |  Zelt Marais  |  Mvm Holdings  |  Anc  |  Ebrahim Rasool  |  Dream World  |  Nuweland  |  Flyt  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.