Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
WPRU word vir miljoene gedagvaar
Die Nuweland-stadion, wat saam met ander eiendomme aangebied is as sekuriteit vir ’n lening wat die WP Rugbyunie by Dream World Investments 401 aangegaan het. Foto: Gallo Images

Die Westelike Provinsie Rugbyunie (WPRU) en sy trustees gaan in die hooggeregshof vir sy eiendomme moet baklei nadat hy deur Dream World Investments 401, wat verlede jaar meer as R110 miljoen aan hom geleen het, gedagvaar is.

Dream World is gekoppel aan Flyt Property Investment, met wie die WPRU vennootskappe aangegaan het vir eiendomsontwikkelinge by die Nuweland-stadion en die unie se Brookside-eiendom.

Dié transaksies is in Junie en Julie verlede jaar op raadsvlak bekragtig, maar die WPRU het sedertdien deur sy regsverteenwoordigers in ’n skrywe aan Dream World en Flyt aangevoer dat dit volgens hom nie meer van krag is nie.

Teen daardie tyd het Dream World reeds sowat R110,7 miljoen aan die WPRU voorgeskiet om sy skuld van nagenoeg R53 miljoen aan Investec en R57,7 miljoen aan Remgro te kon delg.

Teen daardie tyd het Dream World reeds sowat R110,7 miljoen aan die WPRU voorgeskiet om sy skuld van nagenoeg R53 miljoen aan Investec en R57,7 miljoen aan Remgro te kon delg.

Volgens die leningsooreenkoms moes die WPRU saam met die oorspronklike leenbedrag ’n aanvangskoste van R1,265 miljoen en ’n “ontwikkelingsfooi” van sowat R30,1 miljoen aan Dream World betaal.

Die WPRU en sy trustees word nou vir al drie bedrae, plus die rente daarop, gedagvaar.

Volgens die dagvaarding beloop rente op die leenbedrag reeds byna R2,4 m en op die aanvangskoste R27 394.

In die hofdokumente vra Dream World boonop dat eiendomme van die WPRU, wat oorspronklik as sekuriteit aangebied is vir die lening, gebruik sal word om die bedrag te betaal wat aan hom toegeken word, indien Dream World die saak wen.

Hoewel die WPRU nog nie met die druktyd op ’n versoek om kommentaar gereageer het nie, lyk dit of sy verweer op ’n tegniese punt gegrond gaan wees.

In ’n brief (gedateer 23 November 2020) wat die WPRU se regsverteenwoordigers aan Flyt en Dream World gerig het, word aangevoer dat die lenings- én eiendomsontwikkelings-ooreenkoms oorspronklik ’n vennootskap tussen die WPRU en Flyt sou wees.

Die feit dat Dream World as party bygekom en die geld voorgeskiet het, maak volgens die WPRU die ganse ooreenkoms tot niet.

Daar word ook aangevoer dat die leningsooreenkoms nie tot stand gekom het nie.

Zane de Decker, besturende direkteur van Flyt Property Investment. Foto: Argief

Die Kommissie vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom verwys na Donovan van der Vyver as die alleendirekteur van Dream World, en na hom en Zane de Decker as direkteure van Flyt.

De Decker is Flyt se besturende direkteur.

Voorts is dit ook die WPRU se standpunt dat die eiendomsontwikkelings-ooreenkoms ongeldig is omdat die “onderwaardering” van Nuweland op ’n lys van bepalings van die ooreenkoms, teen “openbare belang” en “openbare beleid” indruis.

Volgens die regsverteenwoordigers se skrywe word Nuweland daarvolgens teen die leenbedrag gewaardeer, terwyl daar gesê word dat die WPRU dit onafhanklik teen R377 miljoen laat waardeer het.

Dream World en Flyt verwerp die WPRU se standpunt.

In ’n antwoord op die WPRU se brief, gedateer 10 Desember 2020, word gesê dat daar in ’n gevorderde stadium van onderhandelings ooreengekom is dat Dream World die geld sou voorskiet en dat Flyt en die WPRU die bepalings van die eiendomsontwikkelings sou nakom.

Daar word ook daarop gewys dat die WPRU op 30 Junie deur sy raad en op 8 Julie goedkeuring aan albei transaksies met Dream World en Flyt gegee het.

Die WPRU het ook twee direkteure gehad in albei die maatskappye wat gestig is vir die eiendomsontwikkelinge, waarin hy ook ’n aandeelhouer van 50% sou wees.

Die WPRU het ook twee direkteure gehad in albei die maatskappye wat gestig is vir die eiendomsontwikkelinge, waarin hy ook ’n aandeelhouer van 50% sou wees.

Die dagvaarding, wat Vrydag beteken is, kom op ’n ongeleë tyd vir die WPRU.

Zelt Marais, president van die WP Rugbyunie.Foto: Gallo Images

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) het onlangs glo met ’n ondersoek begin om die WPRU se finansiële posisie te bepaal.

As Saru nie tevrede is dat ’n unie of sy sakevleuel aan finansiële vereistes voldoen nie, bevind dat hy nie volgens gesonde korporatiewe bestuursbeginsels optree of sy geld nie uitsluitlik vir rugbysake aanwend nie, is die nasionale beheerliggaam by magte om hom onder administrasie te plaas.

Zelt Marais, president van die WPRU, en Ebrahim Rasool, voorsitter van die sakevleuel, het verlede week die versekering gegee dat WP Rugby ’n “lopende saak” is.

Meer oor:  Zelt Marais  |  Kaapstad  |  Rugby  |  Flyt Property Investment  |  Dagvaarding  |  Wpru
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.