Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
WP sal ‘móét beter’ op Ellispark

Onder gewone omstandighede sou dit ’n groot prestasie gewees het om 48 punte teen die Blou Bulle op Loftus Versfeld op te stapel, maar John Dobson, die Westelike Provinsie se afrigter, meen die Streeptruie sal beter as dít moet wees om die Leeus in Woensdag se Curriebeker-wedstryd op Ellispark in Johannesburg te klop.

JJ Kotze rond een van sy vier drieë af vir die Westelike Provinsie in Saterdag se oorwinning van 48-24 oor die Bulle op Loftus Versfeld. Foto: Gallo Images

Die rede daarvoor is dat die Bulle se grofgeskut Saterdagaand in Treviso was vir die Reënboogbeker-eindstryd. ’n Rits ander spelers was ook nie beskikbaar nie vanweë hul betrokkenheid by die Springbokke, Blitsbokke en Junior Bokke. Daarom moet die WP se sege van 48-24 gesien word as een wat effektief deur sy B-span teen die Bulle se C-span behaal is.

’n Mens moet egter ook nie té krities wees nie. Die WP sou altyd hierdie wedstryd wen en het dit ook geweet. Sy aanvanklike taktiek om Barbarians-rugby te wil speel, was die verkeerde benadering, want daar’s in die proses wegbeweeg van sy sterkpunte. Daarvan was Kefentse Mahlo se vroeë drie van omkeerbesit vir die Bulle ’n bewys.

Het die WP ’n jong Bulle-span aanvanklik eers ’n bietjie voorlangs sag gemaak, sou die oorwinning waarskynlik groter gewees het.

Die Bulle sal tevrede voel met die bonuspunt wat hulle verwerf het danksy hul vier drieë.

Maar ja, hierdie wedstryd gaan nie soveel as ’n voetnota wees wanneer die geskiedenis van Curriebeker-rugby geskryf word nie en dit was as’t ware vir die WP ’n goeie oefenlopie vir die groter uitdaging van ’n wedstryd teen die Leeus.

“Ek is origens tevrede met ons vertoning, veral in die vaste fasette, maar alles sal beter móét wees op Ellispark,” sê Dobson.

“Die Leeus gaan spelers terugkry en hul nederlaag Vrydagaand teen die Pumas sou uiteraard seergemaak het. Ek dink nie hierdie vertoning sou goed genoeg gewees het vir ’n oorwinning op Ellispark wees nie. Ons het baie om aan te werk.”

Die WP het hom op sy voorspelers beroep om die sege te beklink en drie van sy sewe drieë was danksy rolmaalbewegings. JJ Kotze, die haker wat sy debuut gemaak het, het al drie afgerond en nóg ’n drie gedruk.

Dobson meen hy en die ander spelers wat hul buiging vir die WP gemaak het – Niel Otto, Hacjivah Dayimani, Justin Basson en Evan Roos – kan almal tevrede voel met hul vertonings.

“Daar’s aspekte van die vertoning wat ek bly oor was – die vaste fasette en van die aanvallende spel. Dit was goed om sewe drieë aan te teken, maar dit moes waarskynlik meer gewees het,” sê Dobson.

“Ons het geweet ’n jong Bulle-span gaan aanhou kom vir ons, so ek dink ons kon beter verdedig het. Ons oorheersing van die vaste fasette het ons ’n bietjie te voortvarend gemaak en ons was by tye roekeloos. Daar’s drukaangeë gemaak wanneer dit nie gedoen moes word nie.

“Dit sou egter altyd ’n moeilike wedstryd vir ons wees. Die Bulle was gevaarlik omdat hulle niks gehad het om te verloor nie terwyl almal verwag het dat ons sou wen.”

Puntemakers:

Westelike Provinsie 48 (28): Drieë: Sihle Njezula, JJ Kotze (4), Evan Roos, Dan du Plessis. Doelskoppe: Abner van Reenen (4), Tim Swiel. Strafdoel: Swiel.

Blou Bulle 24 (12): Drieë: Kefentse Mahlo, Richard Kriel, Dewald Donald, Jaco Labuschagné. Doelskoppe: FC du Plessis, Jandré Burger.

Meer oor:  Westelike Provinsie  |  Wp  |  Bulle  |  Curriebeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.