Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
WP se Dobson baklei teen oormag

Die amptelike antwoord uit spelergeledere is dat hulle nie belangstel in die woelinge agter die skerms nie, maar as dit dreig om hulle in die sak te raak, is dit natuurlik ’n heel ander storie.

John Dobson klap die sweep by ’n oefensessie van die Westelike Provinsie. Foto: Gallo Images

Dis teen daardie agtergrond wat Robbie Fleck, die Stormers se afrigter, en nou ook die Westelike Provinsie se breier in die Curriebeker-reeks, John Dobson, vanjaar hul taak moes verrig.

Dobson, wat die Stormers aanstaande jaar afrig, het baie van sy vingers in gate in die damwal. Die WP het hom deur sy gesloer om sy top-Springbokke te herkontrakteer wyd oopgelaat vir ander unies om met hulle te onderhandel. Soos sake staan het Dobson die woord van sy top-Bokke dat hulle in die Kaap gaan bly. Tot tyd en wyl die mondelinge ooreenkomste op skrif geplaas word, is daar egter niks wat ander unies verhoed om nog met die betrokke spelers se agente te praat nie. In die wêreld van beroepsport veral beteken ’n mondelinge ooreenkoms dadels – meer so as spelers rede het om te glo dat hul toekomstige werkgewer finansiële probleme het.

Daardie indruk is ongetwyfeld geskep deur die weiering van die direksie van die WP se sakevleuel om kontrakaanbiedinge aan spelers goed te keur sonder dat die amateurarm (’n aandeelhouer van 100%) bereid sal wees om daarvoor pa te staan. Dít toe die sakevleuel en amateurarm in ’n ernstige magstryd was.

Ná baie dramas en krisisse agter die skerms is die aanbiedinge uiteindelik uitgestuur – byna ’n maand en ’n half nadat die venster oopgegaan het om met spelers in die laaste jaar van hul kontrakte te onderhandel.

Die media se fokus op spelerskontrakte het eintlik die skaal van die probleem verberg, want geeneen van Dobson se assistente het al ’n kontrak vir aanstaande jaar se Superreeks met die WP gesluit nie. Weer eens staan dit enigiemand vry om met hulle te onderhandel.

Die voortslepende krisisse agter die skerms by die Westelike Provinsie begin dalk ’n tol eis op die Streeptruie se afrigter, John Dobson. Foto: Gallo Images

Terwyl Dobson oënskynlik die situasie onder beheer het, maak hy deels staat op die lojaliteit en ordentlikheid van mense binne ’n milieu waar sulke dinge só skaars soos hoendertande is. Soos sake staan, is daar nie strukture vir ’n suksesvolle Superrugby-veldtog nie.

Dis hierdie scenario wat Dobson moes trotseer – of besig is om in die agtergrond te trotseer – terwyl hy ook verantwoordelikheid vir die WP se Curriebeker-veldtog moet neem.

Hy is ’n man met uiters breë skouers en ’n diep liefde vir die WP. Sowel die Haaie as die Blou Bulle het in sy dienste belang gestel, maar hy het in ’n tyd van onsekerheid besluit om die kans te waag om by die WP aan te bly.

Dobson het deur die jare nog altyd gewys dat hy onbesonge spelers tot groot hoogtes kan inspireer. Moet dus nie verbaas wees indien die Streeptruie vroeg aanstaande maand sjampanje uit die Curriebeker drink nie.

Vir eers is die WP egter ’n span wat benede sy potensiaal speel – ’n seldsame verskynsel onder Dobson. Inteendeel, sedert sy aanstelling as afrigter van die WP se o.21-span in 2010 deur die WP se destydse direkteur van rugby (Rassie Erasmus), is Dobson se naam sinoniem met sukses.

Nou dié vraag: Het die WP se vele probleme van die veld selfs op Dobson ’n tol geëis? Of gaan die Streeptruie ’n haas uit die hoed pluk?

Curriebeker-bepalings

Curriebeker-puntelys

Curriebeker-uitslae

Meer oor:  John Dobson  |  Stormers  |  Wp  |  Superrugby  |  Curriebeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.