Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
WP se lakwerk nou op peil, sê Laker

Die middelmatigheid wat die Westelike Provinsie tydens dié Curriebeker-rugbyseisoen op die verdediging ten toon gestel het, is hopelik nou iets van die verlede.

Norman Laker, die WP se verdedigingsafrigter, glo die spelers verstaan nou presies wat van hulle verwag word om ’n plek in die eindstryd te bespreek.

Die WP het die Haaie met stewige verdediging soos dié in hul voetspore gestuit. Foto: Gallo Images

Om dít te vermag, sal die Streeptruie Saterdag op Nuweland met die Leeus moet afreken.

Laker sê hy is baie tevrede met die manier waarop die WP die Haaie vir lang tydperke van verlede Saterdag se oorwinning met 31-20 in Durban verhoed het om punte aan te teken.

“Ná hul vroeë eerste drie (in die derde minuut), het hulle eers in die 80ste minuut weer ’n drie gaan druk,” sê Laker.

“Dit is ’n bewys van die span se karakter en hoe hard hulle vir mekaar werk. Ons kon wel ’n bietjie beter in die eerste helfte op die verdediging gevaar het, maar daai uitstekende vertoning in die tweede helfte spreek boekdele van die standaarde wat ons graag dié seisoen wou handhaaf.

“Daar was ’n hele paar wedstryde tydens die veldtog waar ons met 10 punte voorgeloop het, maar dan die teenstanders toegelaat het om wéér in die wedstryd in te kom.

“Ons het oor die naweek teen die Haaie besluit dat wanneer ons die voorsprong verseker, ons dan ons teenstanders in ’n wurggreep moet hou.”

Die WP het in hul laaste ontmoeting met die Leeus op Ellispark met 20-29 verloor. Die Leeus het op daardie Sondagmiddag in Johannesburg met ’n paar jong Turke dit reggekry om die Streeptruie te oorrompel.

Laker sê hy verwag dié keer selfs ’n groter aanslag van die Johannesburgse span, wat die naweek op die dienste van verskeie Springbokke – soos die haker Malcolm Marx, Ruan Dreyer (stut), Ross Cronjé (skrumskakel), Courtnall Skosan (vleuel) en Andries Coetzee (heelagter) – kan staatmaak.

Dan het die Leeus ook in die flank Kyle Brink ’n stormram wat sonder moeite verdedigers kan afskud wanneer hy op hol gaan. Kwagga Smith, ’n hoog aangeskrewe Blitsbok, se aandele as toekomstige Bok in vyftienmanrugby het ook in die laaste paar weke gestyg en hy is een speler wat met sy kraglopies en baljagtersvernuf die Streeptruie groot kopsorge kan veroorsaak.

Norman Laker, die WP se verdedigingsafrigter, op die oefenveld. Foto: Gallo Images

“Hulle het goeie rugby teen die Cheetahs gespeel en wanneer hulle die voordeel van die Hoëveld se lugdruk het, gooi hulle die bal rond.

“Ek dink hulle gaan egter met meer van ’n fisieke ingesteldheid op Nuweland opdaag, maar ons sien uit daarna. Teen die Haaie moes ons ook ’n fisieke aanslag afweer en dit is iets wat die Leeus baie goed doen.

“Ons sal die spelers wat gewoonlik vir hulle die momentum verskaf moet stuit en dit is ’n baie moeilike taak, maar ons het dit een keer vanjaar teen hulle reggekry.”

Laker verwys na die WP se sege met 39-3 oor die Leeus vroeg in die seisoen op Nuweland.

“Ons wil hulle die naweek weer verhoed om ons doellyn oor te steek,” sê hy.

Meer oor:  Wp  |  Curriebeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.