Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
WP se raadsaal-drama sal nie skuif kelder

Besluite wat die Westelike Provinsie Rugbyunie (WPRU) oor sy stadion-transaksie met Investec neem, sal nie aanstaande jaar se skuif Kaapstad-stadion toe kelder nie.

André van der Veen. Foto: Verskaf

Dít was Woensdag die versekering van André van der Veen, ’n direkteur van die WPRU se sakevleuel, wat ook op die unie se tussentydse bestuurskomitee dien.

“Ons is oortuig dat die ooreenkoms tussen ons en die Kaapstad-metro bindend is. Dit gaan nie verander nie,” het Van der Veen Woensdag aan Netwerk24 gesê.

Volgens hom is die hoofpunte van ’n ooreenkoms onderteken en is dit slegs “detail” wat met die metro uitgeklaar moet word.

Kommer dat die skuif na die Kaapstad-stadion gekelder kan word, het Woensdag ontstaan ná nuus dat Kevin Kiewitz, ’n lid van die WPRU se uitvoerende raad, uit sy amp bedank het. Etlike bronne het aan Netwerk24 gesê dat Kiewitz dié stap gedoen het nadat daar glo deur die uitvoerende raad besluit is om kop uit te trek uit die transaksie met Investec. Dié transaksie sou die WP R110 miljoen vir Nuweland in die sak bring. Investec sou dan ’n eiendomsontwikkeling doen waaruit die WP ’n verdere inkomstestroom sou kry.

Ongeag of die Nuweland-transaksie in die slag bly, sal die Stormers en Westelike Provinsie steeds aanstaande jaar hul rugby in die Kaapstad-stadion speel. Foto: Gallo Images

Die WP sou daarmee die sowat R58 miljoen wat hy die beleggingsmaatskappy Remgro skuld, kon delg.

Zelt Marais, die WPRU se president, het klubs in die provinsie Dinsdag skriftelik in kennis gestel dat Kiewitz bedank het as lid van die uitvoerende raad en direkteur van die WPRU se sakevleuel.

Zelt Marais, die WP Rugbyunie se president, sê in sy brief aan klubs dat Kevin Kiewitz bedank het as ’n lid van die unie se uitvoerende raad en as aandeelhouer-direkteur van die sakevleuel.

Van der Veen het egter Woensdag aan Netwerk24 gesê dat Kiewitz aanbly as ’n direkteur en lid van die tussentydse bestuurskomitee – iets wat volgens hom Maandag reeds met Kiewitz uitgeklaar is.

“Ek het met die voorsitter van die raad bevestig dat Kevin nie (as direksielid van die sakevleuel) bedank het nie. Sy bedanking is teruggetrek – indien daar ooit een was,” het Van der Veen gesê.

Zelt Marais, president van die WP Rugbyunie. Foto: Gallo Images

Marais, Van der Veen, Kiewitz en Raymond van Niekerk dien saam op ’n tussentydse komitee, wat die WPRU bestuur tot tyd en wyl ’n nuwe uitvoerende hoof aangestel word.

Kiewitz het aan Netwerk24 gesê dat hy nie kommentaar wil lewer nie en binne ’n paar dae ’n verklaring sal uitreik.

“Ek hardloop nie weg nie. Ek tree op in die belang van WP Rugby,” het hy gesê.

Ofskoon daar nie amptelike bevestiging was van die gerug dat die WP besluit het om kop uit te trek uit die transaksie met Investec nie, was Kiewitz glo nou betrokke by die onderhandelinge om dit destyds vas te knoop. ’n Besluit deur die WPRU om nou koue voete te kry, sou sy werk ondermyn.

Boonop ontstaan die vraag waar die WP nou die geld gaan kry om sy Remgro-lening te delg. Indien Investec die ondertekening van die hoofpunte van die ooreenkoms vir die Nuweland-transaksie as bindend beskou, kan die unie se beweerde ommekeer groot drama ontketen.

Daar is hardnekkige gerugte dat die WP Rugbyunie besluit het om kop uit te trek uit ’n transaksie met Investec vir die verkoop van Nuweland. Foto: Gallo Images

Volgens Van der Veen sal die Nuweland-transaksie nie ’n impak op die sakevleuel se bedrywighede, wat die kontraktering van spelers insluit, hê nie.

“Ons het goeie spelers, goeie kontrakte, goeie borge wat almal hul kontrakte hernu het en ’n uitstekende afrigtingspan. Uit ’n rugby-perspektief is dinge net besig om beter te raak,” sê hy.

“Daar is stabiliteit, energie en ons weet waaraan ons moet werk en waar ons swakhede is. Al daardie dinge is positief.”

* Marais kon nog nie vir kommentaar bereik word nie en ’n woordvoerder van Investec het nie op ’n boodskap gereageer nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.