Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
WP se storie nié uit, maar beter met Flyt

Fluit-fluit, die Westelike Provinsie Rugbyunie (WPRU) se storie is nié uit na sy huwelik met die Flyt Property Investment vir eiendomsontwikkelinge by Nuweland en Brookside nie.

Trouens, die WPRU het vir hom ’n veel beter perd opgesaal met Flyt eerder as Investec, met wie hy oorspronklik ’n transaksie vir Nuweland sou aangaan.

Dít is die mening van Zane de Decker, besturende direkteur van Flyt, wat daarop wys dat die WPRU ’n 50%-aandeelhouer gaan wees en ook twee plekke in die direksie van vyf lede in die ontwikkelingsmaatskappy sal hê.

Zane de Decker, besturende direkteur van Flyt Property Investment, meen die WPRU se president, Zelt Marais, het sterk leierskap gewys deur weg te stap van die onderhandelingstafel met Investec. Foto: Flytproperty

Volgens hom is dit ook onsin dat die WPRU skuldvry sou wees as die transaksie met Investec voortgegaan het.

Volgens dié ooreenkoms sou die WPRU R110 miljoen kontant gekry het en glo op 5% van die huur-inkomste en 3,5% van die herverkoop van eenhede uit die eiendomsontwikkeling van die bankreus kon staatmaak.

“Investec se R110 miljoen sou terugbetaal moes word. Dit was ’n lening, nes ons s’n, aan die WPRU,” sê De Decker.

Dream World Investments 401, ’n maatskappy binne Flyt, het R112 miljoen aan die WPRU geleen om sy totale skuld aan Investec en Remgro terug te betaal.

“As Investec die regte gekry het (om by Nuweland te ontwikkel) sou hy ’n huurooreenkoms van 99 jaar aangegaan het.

“Die waarde sou R110 miljoen wees en die lening sou daardeur omskep word in die huurbetaling (deur Investec aan die WPRU),” sê De Decker.

“Die verskil is dat ons ’n ontwikkelingsmaatskappy op die been bring wat die grond koop. Die inkomste word dan gebruik om die lening terug te betaal.

“Investec se R110 miljoen sou egter met rente terugbetaal moes word, wat deur die media misgekyk is.”

Hy glo Zelt Marais, die WPRU se president, verdien krediet dat hy raakgesien het dat daar groter voordele in ’n transaksie met ’n ander ontwikkelaar as Investec kon wees.

“Alle krediet aan Zelt, want hy het ’n groot geloofsprong geneem deur weg te stap. Hy is ’n besonder sterk leier,” sê De Decker.

“Daar is duidelik oor ’n lang tydperk onderhandel en dit het ’n punt bereik waar hy ontevrede was met die bepalings van die voorgestelde transaksie. Investec was nie gewillig om hierop te verbeter nie en hy (Marais) het toe weggestap.”

De Decker voer die saak verder deur te sê dat die WP se transaksie met Investec eintlik oor byna 300 jaar kon strek.

“Soos ek dit verstaan, sou die ooreenkoms vir 99 jaar wees, met twee opsies om dit daarna te verleng. Die media het die transaksie tussen die WPRU en Flyt in die soeklig geplaas. Ek dink nie enigiemand het dieselfde met Investec gedoen het,” sê hy.

De Decker is ’n WP-ondersteuner en sê dit lê hom na aan die hart om ’n projek te hê wat die rugbygemeenskap kan help. Nuweland se erfenis sal in gedagte gehou word met enige ontwikkeling.

’n Ontwikkeling wat by Nuweland gedoen word, sal dié ikoniese stadion se erfenis in berekening bring. Foto: Gallo Images

“Ons sien dit nie net as ’n stuk grond nie. Die érfenis is ’n spesiale aspek,” sê hy.

Flyt se onderhandelinge met die WPRU oor Nuweland het volgens hom op 3 Junie begin nadat die Investec-transaksie skeefgeloop het.

Daar was vroeër al gesprekke tussen die WPRU en Flyt oor moontlike ontwikkelinge by Oranjezicht en Brookside.

’n Ontwikkeling by Brookside, waarin Flyt en die WP gelyke vennote sal wees, gaan ook gedoen word.

Die moontlikheid van ’n ontwikkeling op Brookside se B- en C-velde is ’n netelige kwessie omdat die Villager-klub ’n huurooreenkoms tot 2028 daar het.

Daar is twee jaar gelede ’n addendum by sy kontrak met die WPRU gevoeg dat ’n ontwikkelaar vir opgraderings by die A-veld sou moes betaal indien daar op B en C ontwikkel word. Dit sluit in ’n kunsmatige veld wat sowat R10 miljoen sal kos.

De Decker sê dat enige ontwikkeling ’n onderhandeling met Villager sal behels.

“Dis gesprekke wat nog moet plaasvind, maar dis geensins ons bedoeling om alles te ontwikkel en Villager sonder ’n tuiste te laat nie. Dis die laaste ding wat ons wil doen.”

Met Investec wat ’n prokureursbrief aan die WPRU gestuur het, voorsien De Decker nie ’n tweestryd nie.

“Ons prokureurs het die kwessie onder oë geneem, spesifiek Investec se brief aan die unie. Ek kan sonder twyfel sê dat die ooreenkoms tussen Investec en die unie gekanselleer is.”

Meer oor:  Investec  |  Wpru  |  Zelt Marais  |  Zane De Decker  |  Nuweland  |  Flyt
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.