Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
WP staal hom Saterdag vir Super-Leeus

Selfs met tuisveldvoordeel in Saterdag se Curriebeker-halfeindstryd erken die Westelike Provinsie se afrigter, John Dobson, dit gaan ’n “taai” uitdaging wees om met die Goue Leeus af te reken.

Nizaam Carr (regs), agtsteman van die Westelike Provinsie, probeer Saterdag om die Haaie se Curwin Bosch te stuit.Foto: Gallo Images

In die vorige Nuweland-kragmeting tussen dié spanne in Augustus was die WP lag-lag met 39-3 baas, maar nou het die Leeus skielik etlike sterre van vanjaar se Superreeks beskikbaar.

’n Jong span van die Leeus het twee naweke gelede ook met die WP op Ellispark afgereken. Nou is daardie span gepantser met sterre soos Andries Coetzee, Courtnall Skosan, Ross Cronjé en Malcolm Marx – almal voorkeurspelers in hul posisies vir die Springbokke.

Die WP het nie ’n enkele speler wie vanjaar gereeld vir die Bokke begin het nie, maar wat ons wel in die afgelope naweek se sege van 31-20 oor die Haaie gesien het, is dat hy ’n span propvol karakter is. Daarmee het die WP vir die negende jaar agtereenvolgens die halfeindronde van die CB-reeks gehaal.

Gaaf, die Streeptruie is vanjaar om die minste te sê onbestendig, maar toe die druk Saterdag regtig op hulle was, het die Kapenaars daarin geslaag om ’n tuishalfeindstryd los te speel.

Hulle was met rustyd met 3-13 agter, maar vier mooi drieë binne 17 minute in die tweede helfte het die gang van die wedstryd bepaal.

John DobsonFoto: Gallo Images

“Ek was baie beïndruk deur die Haaie se intensiteit vroeg in die wedstryd. Ons was ná die eerste 20 minute in diep moeilikheid omdat die Haaie baie fisiek was en momentum gekry het. Daar was tye wat ons desperaat vasgeklou het,” sê Dobson.

“In die tweede helfte het ons ’n paar drieë gedruk. Ons was net meer desperaat omdat ons ’n tuishalfeindstryd wou hê.”

Dobson meen die WP het die vrugte gepluk van die taktiek om die bal in die hand te hou.

“Ons het in die tweede helfte ’n bietjie meer begin hardloop op hulle. Daar was ’n paar tree se ruimte omdat die Haaie ’n bietjie moeg begin raak het,” sê hy.

“Nie ons of die Haaie het regtig ritme op die aanval gevind nie. Dit sou altyd ’n fisieke stryd wees en ek is bly ons kon vasklou.”

Dobson meen nie die sege sal noodwendig vir die Streeptruie ’n groot sielkundige bondgenoot wees nie indien hulle na die eindstryd vorder en weer teen die Haaie moet speel.

“Nee jong,” het hy op daardie vraag geantwoord.

“Nie baie ander spanne sou teen só ’n intensiteit gespeel het soos die Haaie nie in ’n wedstryd wat slegs van akademiese belang was. Robert du Preez (die Haaie se afrigter) het van die Haaie ’n baie direkte span gemaak en hoë standaarde gevestig. Hulle is tot op hede gemaklik die beste span in die kompetisie.

*Puntemakers: Drieë: Robert du Preez (2), Dewaldt Duvenage, JD Schickerling. Doelskoppe: Du Preez (4).Strafdoel: Du Preez. Haaie 20 (13): Drieë: Marius Louw, Kobus van Wyk. Doelskoppe: Curwin Bosch (2). Strafdoel: Bosch. Skepdoel: Bosch.

Meer oor:  Curriebeker-Reeks  |  Haaie  |  Wp
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.