Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
WP, Franse wil bondgenote word

Westelike Provinsie Rugby en die Franse klubreus Stade Français is van voorneme om ’n baanbrekende strategiese rugbyverbond tussen hul professionele franchises te smee wat uiteindelik tot handel en toerisme tussen Kaapstad en Parys en Suid-Afrika en Frankryk kan lei.

Zelt Marais, WP-president.

Die beplande strategiese alliansie sluit ’n jaarlikse vriendskaplike wedstryd tussen die twee professionele spanne van die Stormers en Stade Français in.

Stade Français bied die Stormers ook van vanjaar ’n toegewyde Europese hoofkwartier vir hul Pro16-veldtogte in Skotland, Ierland, Wallis en Italië aan. Daar word verwag dat die Pro16 weens die Covid-19-pandemie tot Oktober uitgestel sal word.

Die opwindende samewerking tussen spelers en afrigters van Stade Français en die Stormers is maande gelede deur die voorsitter van die Franse klubspan, dr. Hans-Peter Wild, voorgestel.

Nadat hy aanvanklik die wiele aan die rol gekry het, het verskeie virtuele vergaderings volgens Rapport se inligting tussen hom, sy strategiese adviseurs en die president van WP Rugby, Zelt Marais, plaasgevind.

Die beplande alliansie sal onder meer beteken dat die spanne professionele en akademiese elite-rugbytalent sowel as afrigters uitruil.

Hulle sal ook kennis en kundigheid oor rugby uitruil om rugbyontwikkeling tussen die klubs en Kaapstad en Parys te bevorder.

Die vennootskap kan die WP, wat die laaste paar maande meestal onder kritiek deurloop vir sy besluite en bestuurstyl, in ’n posisie plaas om meer van sy topspelers te behou en selfs aan sy Franse vennoot te leen. Dis ook vir ’n slag positiewe nuus vir WP-ondersteuners.

Dis nie Wild, ’n Duitse miljardêr, se eerste romanse met Suid-Afrikaanse rugby nie. Dit is hy wat Heyneke Meyer en ’n string Suid-Afrikaners soos Pieter de Villiers, André Volsteedt, Hendré Stassen, Piet van Zyl, Ruan Combrinck en Lionel Mapoe destyds na Parys gelok het.

Springbokke soos Willem Alberts en Morné Steyn was ook jare lank van sy klub Stade Français se staatmakers.

Die WP is ook nie die eerste plaaslike beroepspan wat so ’n ooreenkoms met ’n oorsese klubspan sluit nie.

Die Cheetahs het jare gelede ’n vennootskap met die Japanse klubspan Toyota Verblitz aangegaan. Daardie verhouding het beter op papier as op die speelveld gewerk, iets waarteen WP Rugby moet waak.

Soortgelyke alliansies word egter ’n moderne neiging in wêreldrugby. In Desember het die Australiese span van Brad Thorn, die Reds, hul vennootskap met Robbie Deans se Japanse Panasonic Wild Knights bevestig. Ook hulle sal onder meer teen mekaar speel.

Nog ’n voorbeeld van die moderne neiging is die Nieu-Seelandse Hurricanes wat ’n langtermyn-vennootskap met die Japanse klub Ricoh Black Rams gesluit het.

Dit is onseker wanneer WP Rugby ’n aankondiging oor die beplande vennootskap sal maak.

Meer oor:  Stade Français  |  Wp Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.